
Dit is glo om kontinuïteit te verseker terwyl Eskom dringend met ’n soektog na sy opvolger begin.
“De Ruyter se laaste dag by Eskom sal 31 Maart 2023 wees,” het die Eskom-raadsvoorsitter, mnr. Mpho Makwana, gesê.
“Dit was ’n eer en voorreg om Eskom en Suid-Afrika te dien. Ek wens die hardwerkende mense van Eskom alles van die beste toe,” is De Ruyter in die verklaring aangehaal.
Die Eskom-direksie het bevestig dat daar geen plan is vir die voorsitter om ’n tussentydse hoof te word nie, en dat ’n omvattende soektog van stapel gestuur sal word om ’n gepaste, gekwalifiseerde kandidaat te vind.
“Namens die Eskom-raad, bestuur en die hele Eskom-personeel bedank ek De Ruyter vir sy buitengewone diens aan die mense van Suid-Afrika. Ek bedank ook sy familie vir hul steun aan hom gedurende die onstuimige tydperk,” het Makwana afgesluit.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het gesê De Ruyter het ’n enorme las namens Suid-Afrika gedra. “Ek wil hom bedank vir sy opoffering en veerkragtigheid in ’n moeilike posisie.”
Gordhan het voorts gesê alle Eskom-programme sal voortgaan in die belang van die land.