
Dit was moontlik danksy 4 500 uur vliegervaring dat dr. Rex Barnard (60) en sy seun, ook Rex (21), vandag die storie kan vertel van ’n noodlanding naby Bray wat hulle sonder ’n skraap of ’n blou kol oorleef het. In die video wat sy seun ewe kalm tydens die noodlanding met sy selfoon afgeneem het, kan gesien word hoe Barnard probeer om die enjin, wat gestaak het, weer aan die gang te kry, maar later eerder na ’n geskikte noodlandingsplek soek.
“Ons het op Vrydag (7 Januarie) van my plaas opgestyg om na die Moloporivier te gaan kyk,” sê Barnard sr. “Ek het gehoor dit het danksy goeie reënval begin loop. Die vliegtuig was net vyf minute in die lug toe die enjin staak. Ek het probeer om dit weer aan die gang te kry, maar dit het nie gewerk nie. ‘n Mens moet steeds die vliegtuig vlieg, maar jy moet konsentreer en na ’n geskikte landingsplek soek.
“Ons het nie genoeg hoogte gehad om ’n groot wye pad haal nie. Ek het ’n sogenoemde gang op ’n plaas onder die vliegtuig gesien. Dit is wanneer boere draad weerskante van ’n stuk veld span om beeste onder beheer te hou wanneer dit van kampe verskuif word. Die gang was sowat 5 meter breed, maar die vlerkspan was wyer. Gelukkig was daar nie bome en bosse soos in die tweespoorpaadjie daarnaas nie. Dit is uiters gevaarlik om ’n boom te tref tydens ’n noodlanding.
“Ek het probeer kalm bly, hoewel ek groot geskrik het. Ek
was voorheen al ’n soortgelyke situasie. Al wat ek vir my seun gesê het, is dat hy in
die sitplek moet terugsit om die gewig in die tweesitplekvliegtuig te verskuif.
“Ons het die rowwe aarde, Kalahari-sand en groot graspolle getref. Die linkerkantste draad het die vliegtuig na links geruk. Die vlerk is erg beskadig en die onderstel is afgeruk, waarna ons tot stilstand gekom het. Al wat my seun gesê het toe ons uitklim, is dat ons die vliegtuig maar kan weggooi. Ek het volmondig saamgestem. Intussen het die boer en sy kleinseun wat op die plaas doenig was, nader gejaag. Hulle het eers gedink ek oefen om ’n noodlanding te doen totdat hulle die slag gehoor het. Hulle kon ons darem huis toe vat.”
Barnard sr. vermoed iets was fout met die vliegtuig se brandstoftoevoer, maar die ondersoek van die Burgerlugvaartowerheid sal die oorsaak van die ongeluk bepaal.
Hy bedryf ’n gemengde beesboerdery, wat Bonsmara-, Charolais- en Nguni-beeste insluit, en werk ook as ’n dokter by sy praktyk in Bray waar selfs pasiënte uit Botswana hom besoek. Hy behartig ook private klinieke tot sowat 200 km van Bray. In die verlede toe die staat nog distriksgeneeshere in diens gehad het en aanloopbane en paaie in ’n goeie toestand was, het hy eerder rondgevlieg as gery.
“Hier is alles ver uitmekaar en ons ry op grondpaaie. Om Severn toe te ry, so 200 km van hier, duur drie en ’n half uur, terwyl dit 40 minute is om te vlieg. Deesdae ry ek net omdat aanloopbane en paaie te veel verval het om daar te land of op te styg. Ek ry ook nie meer so gereeld na klinieke wat ver is nie.”
Hy het al voorheen pasiënte wat in ’n ernstige toestand was, met sy vliegtuig na Bloemfontein gebring. Dit is onder andere pasiënte wat deur leeus gebyt is, malaria gehad het of ’n nek in ’n ongeluk gebreek het.