Dele van Noordwes is tans sonder brandstof weens ‘n staking, terwyl Sasol se direkteure glo reuse-verhogings ontvang het.
Solidariteit sê in ‘n verklaring hy het inligting ontvang dat die direkteure van Sasol in die 2009/’10 geldjaar 81% méér as in 2008/’09 verdien het.
Die vakbond sê dié feite was “die laaste strooi wat Solidariteit-lede laat besluit het om tot die staking in die petroleumsektor toe te tree.” Werkers van spesifiek PetroSA sal Donderdag (14 Julie) begin staak. Werkers van Sasol se Secunda-aanleg sal binnekort by dié groep aansluit.
Intussen sê mnr. Ben Marias, voorsitter van die TLU SA, hy kan nie verstaan hoe direkteure sulke reuse-verhogings verdien terwyl werkers op grondvlak met 6% of 7% tevrede moet wees nie. “Hoe kan jy vir jou mense sê jy kan nie vir hulle meer aanbied nie, maar jou verhoging lyk só? As dinge dan só sleg gaan, hoekom kry almal deur die bank dan nie sulke lae verhogings nie?”
Verbruikers loop deur
Marais sê die ergste van dié situasie is dat verbruikers, wat boere insluit, op die ou end weens dié aksies, deurloop. “Die staking van die petroleumwerker is nou reeds aan die gang, en petrolstasies in Ventersdorp, Koster en Swartruggens se brandstof is reeds op. Baie mense wend hulle nou na die koöperasies, so hulle tenks gaan ook vinnig droog wees”.
Volgens Marais het die ongelukkigheid wat by werkers geskep word, ‘n veel groter uitwerking as bloot werkers wat by ‘n maatskappy staak.
“As brandstof gedaan is, kan party mense nie by die werk kom nie. Ons kan nie varsprodukte of enige voedsel na markte vervoer nie. Diere kan nie na slagpale vervoer word of vleis na winkels toe nie. Dit het ook ‘n invloed op die land se voedselvoorraad en voedselsekerheid.”
Die vakbond sê die verhouding tussen werkers en die maatskappy is tans so negatief dat daar nie veel met die onderhandelingsproses gevorder word nie.
13 Julie 2011