
Gerugte dat die wal van die Shongwenidam wes van Pinetown in KwaZulu-Natal weens massas water ná die swaar reën ineengestort het, is onwaar, sê die departement van water en sanitasie in ’n verklaring wat laat Woensdag uitgereik is.
Die verklaring kom nadat die departement bewus geword het van ’n video wat op sosiale media versprei word waarin beweer word dat die damwal ineengestort het. Die departement beskryf dit as “ ’n onnodige slenter deur roekelose sosialemediagebruikers met die doel om paniek te saai te midde van ’n tragedie wat inwoners van KwaZulu-Natal raak”.
Die dam is toegerus met 10 spesifieke soort sluise, in Engels bekend as fuse gates, wat ontwerp is om in vloedtoestande een ná die ander te kantel om te voorkom dat die hele damwal meegee, sê die departement. Sluis 1 heel links en sluis 2 heel regs het begin kantel toe die dam ’n spesifieke vlak bereik het. Dit is deel van die ontwerp en is daarom ’n veiligheidsmaatreël.
As dit nie gebeur het nie, sou die damwal aan meer druk onderwerp word, wat die stabiliteit van die betonmuur sou bedreig en water sou dan moontlik oor die nie-oorloop-kruin geloop het.
“Die dam werk dus soos dit moet gedurende vloedtoestande, soos wat tans in dele van KwaZulu-Natal beleef word,” sê mnr. Wally Ramokopa, ’n direkteur in die departement se eenheid vir damveiligheidsregulering.
“ ’n Span ervare damveiligheidsingenieurs is op hoë gereedheidsvlak om die situasie by die dam te monitor. Daar is absoluut geen rede om verontrus te wees nie.”
Die oorblywende agt sluise sal kantel indien die watervlak hoër as 2,4 m bokant die volvoorraadhoogte styg.
Ramokopa het toegegee dat die dam se opgaarvermoë ongelukkig verminder sal word as soiets wel plaasvind, totdat die sluise weer herstel word.
Die departement het sy pleidooi aan inwoners herhaal om weg te bly van rivieroewers en damme wat oorloop, omdat aanhoudende reën steeds in die provinsie en ander dele van die land oor die Paasnaweek voorspel word.