
Die departement het onlangs ’n onwettige opdammingstruktuur op ’n private plaas in Limpopo gesloop. “Die boer het die vloei van die water van die Groot-Nylrivier blokkeer en dit het die voorsiening van water aan gemeenskappe rondom Modimolle en Bela-Bela geraak,” sê mnr. Marcus Monyakeni, kommunikasiebeampte van die departement.
Die departement is volgens hom, as die bewaarder van water, gekant teen die onwettige bou van strukture wat die watervloei belemmer, of dit op private of openbare grond is.
“Daar is tans ’n toename in gevalle van onwettige opdamming in Suid-Afrika en dit beïnvloed en bedreig boerderygemeenskappe stroomaf wat die water vir besproeiing en huishoudelike voorsiening gebruik.” In sekere gebiede word kragvoorsiening, ekostelsels en biodiversiteit ook benadeel.
Die boer wie se damstruktuur gesloop is, se optrede was volgens Monyakeni onaanvaarbaar, omdat die water nie net vir sy plaas bedoel is nie, maar ook vir gemeenskappe stroomaf vir wie die rivier se vloei belangrik is vir oorlewing.
Boere wat nie hul samewerking gee nie en die departement se amptenare toegang tot hul private eiendomme weier vir inspeksie, oortree volgens hom hoofstuk 13 van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) wat oor toegang en regte oor grond handel. Spesifieke artikels in die hoofstuk maak voorsiening vir ’n gemagtigde persoon om toegang tot private eiendom te kry en dit te inspekteer.
Die regte van eiendomseienaars word beskerm in die opsig dat dit vir gemagtigde persone voorsiening maak om eiendom te betree en inspekteer. ’n Gemagtigde persoon moet op versoek ’n sertifikaat van magtiging verskaf. In sekere omstandigde moet ’n lasbrief verkry word voordat die persoon die eiendom kan betree, sê Monyakeni.
Die departement se eenheid vir regulering, nakoming en afdwinging se take van monitering en optrede sluit in dat fluitjieblasers die departement se tolvrynommer, 0800 200 200, kan gebruik om vermeende onwettige optrede aan te meld.
Die departement span ook gesofistikeerde tegnologie in vir die bekamping van die onwettige gebruik van water.
Landbou.com het vandag ’n versoek tot die departement gerig vir nog inligting oor die dam in Limpopo wat gesloop is, en sal dit publiseer sodra dit ontvang word.
Landbou.com het ook vroeër vanjaar berig dat die departement mnr. David Gace, ’n KwaZulu-Natalse boer, opdrag gegee het om ’n onwettige dam op sy plaas te sloop. Gace het hom tot die hooggeregshof gewend om die opdrag te hersien en tersyde te stel. Die saak is nog hangende.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.