
As dit waar is dat nou eers gereageer word op sprinkaanswerms wat reeds verlede Vrydag by die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling aangemeld is, stuur die situasie op ’n veel groter krisis af as wat hy aanvanklik verwag het, sê dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA.
Volgens Verdoorn is die hele Boesmanland nou vol sprinkane nadat swerms verlede week by Upington, Pofadder, Marydale, Langklip, Groblershoop, Niekerkshoop, Sutherland en Richmond opgemerk is.
Hy sê die situasie is nie onder beheer nie aangesien boere sukkel om die nodige spuitmiddels by die departement te kry en spuitspanne nie uitgestuur word nie.
Me. Vuyokazi Mpumlwana, woordvoerder van die departement, het aan Landbou.com gesê daar word vandag gereageer op swerms wat Vrydag aangemeld is.
Verdoorn sê dit is belangrik om onmiddellik te reageer op die aanmelding van ’n swerm sodat dit so vinnig as moontlik uitgewis kan word. “Die boere wil nie hê die hele wêreld moet vol gif gespuit word nie. Hoe groter die swerms word en hoe meer hulle begin rondbeweeg, hoe meer gif moet gespuit word. Die departement hou nie by die beginsel nie.”
Hy sê as die departement so traag is om te reageer, sal die sprinkane ’n enorme probleem word. “Die departement het nog nie weer produkte bestel nie. Ek weet nie of hy produkte in voorraad en spuite het nie.”
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê gedurende die naweek is swerms ook by De Aar en Fraserburg aangemeld. “Dit is ongelukkig so dat dit vroeg in die seisoen is en dat die ratte nie vinnig by die departement draai nie. Sommige kontrakte is nog nie gesluit nie, maar die meeste administratiewe reëlings is gereed.”
Hy sê Agri Noord-Kaap probeer tans om die haakplekke uitgestryk te kry sodat die nodige middele en toerusting so gou moontlik beskikbaar sal wees om te swerms te bestry. Hy glo die ratte sal vinniger draai namate die seisoen vorder.