
Luidens ’n verklaring het die departement met verbystering verneem van “vals” berigte dat die provinsie een van die drie in Suid-Afrika is waar varkpes aangemeld is.
Dié berigte is geskryf na aanleiding van ’n verklaring deur die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Luidens dié verklaring is ’n geval van varkpes in Gauteng bevestig en is plase in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat as voorsorgmaatreël onder kwarantyn geplaas is.
Mnr. Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, sê hy wil graag alle belanghebbendes in die landbousektor, boere en landbougemeenskappe verseker dat sy departement nog nie ’n enkele geval van varkpes in die Vrystaat vermoed of bevestig het nie.
Hy sê verklarings soos dié van die nasionale departement is misleidend, verwarrend en kan onnodige paniek in landbougemeenskappe veroorsaak. Indien enige gevalle van die siekte aangemeld word, sal sy departement nie huiwer om op te tree nie. “Die provinsie se veeartse is steeds waaksaam en sal voortgaan om voorsorgmaatreëls in werking te stel.”
Varkpes is ’n hoogs aansteelike siekte wat tot groot getalle vrektes kan lei. Dit is nie gevaarlik vir mense nie, maar het katastrofiese gevolge vir die varkbevolking en die landbou-ekonomie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.