
Om te voorkom dat diensverskaffers hul produkpryse uitermatig opstoot wanneer boere insette met koopbewyse van die staat bekom, is die persentasie vir prysverhogings tot 27% beperk.
Dit is bekend dat sommige middelmanne hul prys uitermatig opstoot wanneer koopbewyse ter sprake kom. Hierdie probleem is veral uitgelig toe droogteverligtingshulp in die verlede aan boere toegestaan was. Met die uitbreking van die covid-19-pandemie is R1 miljard aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bewillig om die presidensiële werkstimulusinisiatief in te stel.
In Oktober 2020 het pres. Cyril Ramaphosa die land se ekonomiese herstelplan ter tafel gelê waaruit die inisiatief spruit. Die departement het voorgeneem om die geld in te span om 75 000 bestaansboere te ondersteun wie se produksie deur die covid-19-pandemie onderbreek is.
Mnr. Noko Masipa, DA-LP, het in ’n parlementêre vraag aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gevra hoeveel agente of middelmanne is as diensverskaffers aangestel. Hy wou ook weet of sy bewus is van die opgeblase pryse en tot 25%-kommissie op die insette wat hulle vra.
Didiza het gesê die departement het 258 verskaffers gekontrakteer vir die ingryping. Boere het koopbewyse tot ’n maksimum van R50 000 gekry.
Die departement het besluit om standaardpryse in te stel vir alle goedere wat op die goedgekeurde lys van die nodige landbouproduksie-insette is wat aan die begunstigdes verskaf moet word. Die pryse vir elke inset op die lys, volgens die grootte van die eenheid, is nagegaan deurdat kwotasies van alle bestaande groot landbouhandelaars in elke provinsie gekry is. ’n Gemiddelde prys per item is dan vir elke provinsie vasgestel. Sy het aangedui dat daar met die diensverskaffers ooreengekom is dat 27% die plafon is waarbo hulle nie kommissie mag vra nie.
Tweede fase
Didiza het intussen aangekondig dat die tweede fase van die ingryping gereed vir toepassing is en tot 14 Desember 2021 sal duur. Gekeurde bestaansboere kan hul aansoeke stuur deur die kode *134*4536# op hul selfone in te tik.
Sy het benadruk dat aansoekers wat reeds verlede jaar vir hulp ingevolge die presidensiële werkstimulusinisiatief of die Solidariteitsfonds aansoek gedoen het, hoef nie weer aansoek te doen nie. Sowat 50 000 bestaansboere sal hulp in die tweede fase kry. In die eerste fase het 51 559 bestaansboere hulp ingevolge die inisiatief gekry en 36 692 bestaansboere het finansiering van die Solidariteitsfonds gekry.
Die toepassing van die tweede fase val ook saam met die werwing en indiensneming van 5 000 assistentvoorligtingsbeamptes wat moet help toesien dat die projek suksesvol deurgevoer word. Hulle sal nou saamwerk met die meer as 1 000 jeugdiges van die departement se vaardigheidsopleidingprogram, Narysec, en werkloses jeugdiges wat in die eerste fase van die presidensiële werkstimulusinisiatief gewerk het.