
Dr. Jane Buys, veiligheidrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê mnr. Gerhard Bam (42), wat onlangs as plaasbestuurder op die plaas Blackwood begin werk het, is aangeval.
Mnr. Jacobus Stroebel, streekverteenwoordiger vir die VL, sê Bam was besig om die skuur op die plaaswerf reg te pak toe twee vreemde mans hom nader. Die verdagtes het aangedui dat hulle na die man soek wat op die plaas woon. Die een verdagte het onverwags op Bam afgestorm. Terwyl Bam dié man probeer afweer het, het die tweede verdagte hom met ’n stomp voorwerp in sy gesig geslaan. “Voordat hy sy bewussyn verloor het, het hy vir sy vrou geskree om die geweer te bring, want hy word aangeval,” sê Stroebel.
Die twee aanvallers was vermoedelik nie gewapen nie, want met dié noodkreet het hulle op die vlug geslaan.
Stroebel, wat enkele kilometer van dié plaas af woon, sê sowat 30 boere met 20 bakkies was binne minute op die plaas om die verdagtes te help soek. “Ons is ook baie dankbaar dat ses polisievoertuie vinnig op die plaas was om die verdagtes te soek.” Die verdagtes is nog op vrye voet.
Drie verdagtes gesoek
Intussen word steeds gesoek na die drie verdagtes wat mnr. Duaene Truter, ’n plaasbestuurder van Kirkwood in die Sondagsrivier in die Oos-Kaap, tydens ’n plaasaanval vermoor het.
Luidens ’n verklaring deur Agri Oos-Kaap is die 51-jarige Truter, sy vrou en sy seun Sondagaand in hul huis op die Dunbrody-landgoed, waar hy ’n plaasbestuurder vir Unifrutte was, aangeval. Volgens die polisie was die gesin tuis toe ’n onbekende man hul huis binnegekom het. Truter en sy seun het na bewering die verdagte oorweldig toe nog twee verdagtes die huis binnegegaan het. Een van die verdagtes het Truter in die rug gesteek. Hy is later in die hospitaal oorlede.
’n Taakspan bestaande uit verskeie gespesialiseerde eenhede is onmiddellik gestig om die verdagtes te soek.
Volgens mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, is die organisasie diep bedroef oor die moord. Hy sê Agri Oos-Kaap werk nou saam met die polisie om inligting rakende misdaad in die provinsie so vinnig moontlik te kan bekom. Hy sê die organisasie se strategie is om enige opstand of misdaad teen te werk deur eerste met die polisie te skakel, aangesien die polisie die eerste linie van verdediging in sulke situasies moet wees.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.