
Didiza het op Agri SA se jaarkongres in Pretoria gesê sy wil die staat se vorige kwartaallikse vergaderings met die bedryf laat herleef.
“Gesprekvoering is nodig vir die sukses van die bedryf,” het dié voormalige Brahman-beesboer gesê. “Soms sal ons saamstem, soms sal ons verskil, en soms sal ons sê die gesprek duur voort. Ons is by die heup aan mekaar verbind, ons het geen keuse as om saam te werk nie.”
Didiza het in haar toespraak na verskeie belangrike kwessies in die landbou verwys wat moet aandag kry.
Volgens Didiza het die landbou het ’n meesterplan nodig sodat meer beleggings gelok kan word. Sy het verwys na die meesterplanne wat reeds saam met die departement van handel en nywerheid vir die hoender- en suikerbedrywe opgestel word.
In die plan vir die hele bedryf moet daar volgens haar gekyk word na moontlike nuwe bedrywe wat by klimaatsverandering kan aanpas, asook nuwe bedrywe wat tot industrialisering kan bydra, onder meer in die medisinale sektor.
Sy het vertel van boere in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal wat al lank met “groen goud” (dagga) boer en gesê daar is gebiede daar met baie vrugbare grond en goeie reën, maar swak infrastruktuur belemmer die volle gebruik van die grond.
Volgens Didiza moet hervorming van verblyfsekerheid aandag kry en daar met tradisionele leiers hieroor gesprek gevoer word.
Finansiering
Sy het verwys na boere se probleme rakende toegang tot asook die koste van finansiering, en gesê terugskouend wonder sy of dit wys was om weg te doen met die destydse landboukredietraad en dié verantwoordelikheid aan die Land Bank te gee.
“Die regering kyk na ’n finansieringsmodel wat vir ’n toekenning- en ’n leningstelsel voorsiening maak. Die regering kan dit egter nie alleen doen nie, ons sal vennote uit die finansieringsektor nodig hê.”
Grond
Oor onteiening sonder vergoeding het sy gesê sy hoop die parlementêre proses hieroor kan vinnig afgehandel word sodat dit vir almal meer sekerheid kan skep.
Altesame 100 stukke staatsgrond is reeds vir menslike nedersettings en die landbou beskikbaar gestel as deel van pres. Cyril Ramaphosa se vroeëre belofte hieroor, en die betrokke interministeriële komitee sou ook binnekort weer vergader om nog grond te identifiseer.
Markte
Didiza het gesê internasionale mededinging om marktoegang vir landbouprodukte bring die kwessie om na innoverende maniere te kyk waardeur die sektor sy posisie in bestaande markte kan behou, maar ook kan kyk na nuwe markte.
Die staat het reeds die private sektor genader om vennote te wees om voldoening aan sanitêre en fitosanitêre vereistes te versterk.
Die Afrika-vryhandelsooreenkoms (AfCFTA) bied volgens haar groot geleenthede, veral vir waardetoegevoegde produkte, maar dit is ook ’n werklikheid dat die mededinging sterk sal wees, veral rakende primêre landbouprodukte.
“Dit moet ons egter nie keer om met hoop hierna te kyk nie.”
Vroue
Didiza het die belangrikheid van inklusiwiteit in die sektor benadruk. As ’n voorbeeld van ’n suksesverhaal waar die bedryf self die leiding geneem het, het sy vertel dat 40% van die boere in die Eliot-omgewing kommersiële swart boere is.
Sy het gesê sulke vennootskapmodelle moet verbeter en versterk word.
Sy het aan Agri SA ’n spesifieke uitdaging gestel om meer verteenwoordigend rakende geslag te word. “Ons moet ’n doelbewuste poging aanwend om seker te maak ons lok vroue na die sektor, in die hele waardeketting.”
Mnr. Dan Kriek, herkose voorsitter van Agri SA, het ná Didiza se toespraak gesê sy het haar op die regte kwessies toegespits, soos die ekonomiese en groei-aspekte, asook gereelde gesprekvoering.
“Dit is baie duidelik hoekom sy ons almal se keuse as minister van landbou is,” het hy gesê.