
“Ons het met Eskom vergader om te kyk hoe ons dit meer bestuurbaar kan maak vir die boerderybedryf en hoe Eskom die landbou as ’n noodsaaklike bedryf kan sien, soos wat hy vir die gesondheidsorgbedryf oplossings gevind het,” het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, tydens die jaarlikse Hop Harvest-toer op George gesê.
Me. Zoleka Lisa, vise-president van korporatiewe sake by SA Brouerye, sê die 1 227 boere wat aan die maatskappy lewer, steier tans weens beurtkrag.
“Ons kan dit nie ligtelik opvat nie. Ja, as private sektor soek ons na beleggings in alternatiewe energie en ons het reeds sonkragstelsels by ons brouerye en waar moontlik word met sonkrag besproei. Maar met die huidige krisis moet ons na ’n manier soek om die bedryf te beskerm.”
Volgens Didiza het die ministeriële beurtkrag-taakspan wat haar portefeuljekomitee op die been gebring het, reeds dividende opgelewer.
Hulle het onder meer versoek dat gekonsentreerde besproeiingsareas aan minder ernstige beurtkrag onderwerp word. Luidens die taakspan se ondersoek bestee kleinskaalse boere tans sowat R10 000 per maand aan diesel en kommersiële boere omtrent R100 000 per maand.
“Alle besighede kanaliseer kapitaal weg van uitbreiding om eerder in rugsteun-kragopwekking te belê. Vrugte, groente en gewasse kan kleiner opbrengste lewer weens beurtkrag, die melk- en pluimveebedryf is swaar getref en werklike, tydelike tekorte is moontlik vir dierevoer en verpakking. Verbruikers sal waarskynlik die impak van verhoogde koste meer voel as beskikbaarheid.”
Didiza het gesê Eskom het sekere voorstelle gemaak, wat reeds aan die bedryf oorgedra is. Dit sluit onder meer inkorting in, wat beteken boere stem in vir meer beurtkrag op sekere tye van die dag, maar geen beurtkrag wanneer hulle moet besproei nie.
“As regering het ons saamgestem dat ons die bedryf moet bystaan. Die opbrengste sal baie groter wees as die belegging wat die regering kan maak om die bedryf te ondersteun.”
Haar departement is ook in gesprek met die tesourie oor die voorgestelde belastingverligting weens beurtkrag.
“Ons kyk wat ons uit ons eie begroting kan doen om in te gryp tot so ’n mate dat ons met sake kan voortgaan.”
Vat hande
Volgens Didiza sal betekenisvolle vennootskappe tussen die regering en private sektor moet help om die knoop deur te hak – nes dit die geval was tydens die covid-19-pandemie toe die wyn- en bierbedryf gebuk gegaan het onder ’n verbod op drankhandel.
“As regering is dit ons rol om ’n instaatstellende omgewing te skep deur beleid en regulasies, maar op die ou end is dit boere, landboubesighede en plaaswerkers wat die bedryf sal laat oorleef. As ons in betekenisvolle vennootskappe saamwerk, kan meer bereik word in die bedryf en in ons ekonomie.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.