
Só sê me. Mmathoko Jarita Mabula (62) van Limpopo wat aangewys is as die algehele en kommersiële wenner van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Vroue-entrepeneur van die Jaar-kompetisie vir 2019.
Mabula besit Mahlohomolo Investments wat buite Bela-Bela eiers produseer. Sy het in 2014 met die boerdery begin en besit agt produksiehuise wat 15 000 lêhenne kan huisves wat daagliks 110 000 eiers produseer. Altesaam 250 huishoudings is deel van die maatskappy en daar is 2 000 begunstigdes. Die onderneming het 17 heeltydse en tien tydelike werknemers.
Mabula het weggestap met prysgeld van R500 000 en sê dit sal in die besigheid teruggeploeg word.
Me. Daphne Neethling (51) van Paardenkloof Estate in die Wes-Kaap, wat wyn produseer, is die top-entrepreneur vir verwerking en me. Berene Damons (37) van Tesselaarsdal Wines van die Wes-Kaap is die top-entrepreneur vir die uitvoermark.
Me. Happiness Makgamatho (40) van Kgalishibe in Limpopo, wat met eiers boer, is die wenner van die kleinboerafdeling en me. Tholakele Sibiya (38) van die besigheid Ntabenkulu in KwaZulu-Natal is die beste bestaansentrepreneur. Sy boer met groente en hoenders.
Me. Katrina Nxangani (44) van Allem Bros in die Vrystaat is die beste vroulike werker.
Me. Khulile Mahlela (32) van Mpumalanga het die ministeriële toekenning vir jong vroue-entrepreneur ontvang en me. Victoria Mouwane (39) van Gauteng het die ministeriële toekenning vir gestremde entrepreneur ontvang. Hulle boer onderskeidelik met varke en groente.
Skewe eienaarskap
Die feit dat vroue aan die agterspeen van eienaarskap suig en sienings dat dit te moeilik is vir hulle om te boer, moet verander. Dit is die boodskap wat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wou tuisbring by die toekenningsgeleentheid in Kaapstad.
Die landbousektor is grootliks gesien as ’n bedryf vir mans. Vroue se toegang tot grond was nog altyd verbind deur die huwelik met mans of manlike familie soos ooms en hul seuns. Die wette vir erfenis was nog altyd skeefgetrek teen vroue. “Hierdie dinge sal moet verander. Deur parlementêre wetgewing en die werk van vroue-organisasies is hierdie prentjie stadig besig om te verander.”
Sy het gesê dat die kompetisie 20 jaar gelede begin is met die doel om die narratief te verander dat dit te moeilik vir vroue is om te boer. Die afgelope twee dekades is gevind dat vroue reeds vir die mark produseer en ook uitvoer. Die kompetisie het ook die probleme wat vroue in die sektor in die gesig staar, na vore gebring en daar kon gesien word waar regeringsingryping moet kom. Didiza glo dat die kompetisie die doel bereik het waarvoor dit van stapel gestuur is, maar sy voel dat daar steeds meer gedoen kan word.
Sy het gesê dat die voormalige tuislande veral geleenthede bied vir groei in die landbou deur die nodige infrastruktuur daar op te rig. Volgens Didiza moet gesprekke met tradisionele leiers gevoer word sodat grond aan vroue vir boerdery beskikbaar gestel word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.