
Dit was die antwoord van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, toe Landbouweekblad haar vra of dit nie tyd geword het dat daar op groot skaal ’n vennootskap tussen die regering en kommersiële boere gesluit word om opkomende boere op staatsgrond te help nie.
Didiza was op besoek aan Kroonstad en Edenville waar sy gaan kyk het hoe mnr. Nick Serfontein en sy Sernickgroep opkomende boere vir kommersiële sukses oplei. Serfontein het ’n paar jaar gelede in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa juis gepleit dat opkomende boere in die landbouwaardeketting opgeneem moet word en gesê die opkomende sektor het slegs ’n kans op sukses deur middel van opleiding, mentorskap en morele steun van kommersiële boere, bedryfsorganisasies en landboubesighede.
Sernick se opleidingsprogram vir opkomende boere word deur die Jobs Fund, die staat se amptelike werkskeppingsfonds, as een van sy vlagskipprojekte beskou. Daar is ook verskeie ander opleidings- en opheffingsprojekte wat vanuit dié inisiatief gegroei het, onder meer grootskaalse gemeenskapsopheffing op Edenville, die dorp waar Serfontein grootgeword het.
Didiza het gesê die hoofrede vir haar besoek was om maniere te vind waarop die regering en Sernick kan saamwerk. Op haar besoek het sy regstreeks van opkomende boere op staatsgrond gehoor hoe gefrustreerd hulle oor die gebrek aan toepaslike staatshulp is. Die groep het onder meer die staatsplaas Groenpan buite Kroonstad besoek waar begunstigdes volgens Netwerk24 aan haar gesê het hulle het eers werklik vooruitgang begin maak toe mentors van die Sernickgroep hulle gehelp het.
Serfontein self het aan Landbouweekblad herhaal wat hy al dikwels in die verlede gesê het oor die mislukking van staatsplanne om opkomende boere te vestig. “Die rede hoekom meer as 90% van alle transformasieprojekte misluk, kom neer op die feit dat jy nie vir iemand grond kan gee sonder basiese infrastruktuur, kennis, opleiding, toegang tot finansiering, mentorskap en monitering nie.”
Streng dissipline
Hy het gesê streng dissipline is noodsaaklik om suksesvolle grondhervorming deur te voer en vergelyk dit met ’n ouer wat soms tough love moet toepas om hul kinders weerbaar te maak. “Belangrik is natuurlik ook die mens self, hy of sy moet ’n passie hê vir die lewe, vir boerdery en hulle moet die werklikhede van die landbou verstaan. Die landbou is nie vir sissies nie.”
Oor Sernick se toekomsplanne met die opheffing van die gemeenskap en die ontwikkeling van boere, het Serfontein gesê hul program is een van net ’n paar opheffingsprogramme wat werk. “Uit die aard van die saak wil ons voortgaan daarmee. Dit is egter noodsaaklik dat geld vir die basiese infrastruktuurgedeelte (gemiddeld R250 000 per boer) en die formele opleiding beskikbaar gemaak word as ’n subsidie of toelae.”
Die huidige program se omvang is 30 000 beeste op 500 000 ha, het hy verduidelik. Die groep het bykomende versoeke uit die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en die Oos-Kaap ontvang wat ook ongeveer 700 000 ha behels.
“Weens die behoefte uit wit geledere is daar besluit om die program oop te stel vir wit jong boere vanaf 2021.”
Meentgrond
Serfontein het tydens Didiza se besoek by die plaaslike owerheid op Edenville gepleit om hande met Sernick te vat om die ernstige gebreke in die bestuur van die meentgrond aan te pak. Dit is een van die nuwe projekte wat Sernick nou aanpak om die kommunale weiding rondom Edenville te beplan, te orden en ’n model te ontwikkel vir die res van die Vrystaat.
Didiza het aan Landbouweekblad gesê sy glo nie daar is enige kwessie om saam te werk nie en die regering wil bestaande vennootskappe uitbrei. “Ons erken dat daar bekwame boere in Suid-Afrika is wat gewillig is om om hul vaardighede aan ontluikende boere oor te dra. Ons besef die regering kan weens sy beperkte hulpbronne nie die noodsaaklike steun gee wat ontluikende boere benodig nie. Ons ontken dit nie. Soos jy weet, is daar soveel behoeftes waarmee die regering gekonfronteer word. Dit gaan daaroor om die behoeftes in balans te bring. Vir ons is vennootskappe ’n belangrike manier om vorentoe te gaan.”