
Didiza was van 1999 tot 2006 die minister van landbou en grondsake. Landbouweekblad het haar gevra hoe dit voel om weer terug te wees as minister van landbou. “Dit was lank gelede en ek reken sommige dinge het verander.”
Sy sê sy hoop om soos voorheen goed met die landbougemeenskap saam te werk en seker te maak dat die landbou sy plek kan volstaan as een van die ekonomiese boustene van die land.
Didiza het ook ervaring oor die kwessie rakende onteiening sonder
vergoeding en die betrokke wetgewing. Sy was voorheen minister van openbare
werke en nog onlangs was sy voorsitter van die parlement se ad hoc-komitee wat
die grondwetlike wysiging moes saamstel vir ’n verandering aan artikel 25 van
die Grondwet ten opsigte van onteiening sonder vergoeding.
Sy sal deur twee adjunkministers ondersteun word vanweë die skaal van die nuwe portefeulje. Mnr. Mcebisi Skwatsha, wat in die vorige kabinet gedien het, is die adjunkminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming. Mnr. Sdumo Dlamini, voormalige president van Cosatu, is Didiza se ander adjunkminister.
Goeie ontvangs
Landboubelanghebbendes en selfs politici uit opposisiepartye het gunstige reaksie op haar aanstelling gehad.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, gee haar die voordeel van die twyfel. “Sy was reeds in die posisie en behoort gou haar voete te vind.”
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Didiza se aanstelling verwelkom en gesê sy is bevoeg vir die posisie.
Mnr. Molefe Mokoene, uitvoerende hoof van die National African Farmers’ Union of South Africa (Nafu), sê Didiza het ’n rykdom van ervaring en het voorheen baie goed in dié pos en ander portefeuljes gevaar. “Sy verstaan die landbousektor goed en het baie naby die grondhervormingsdebat in ons land gebly.”
Mokoene sê sy het voorheen as minister van landbou en grondsake haar passie gewys vir die ontwikkeling en vermoë om goeie verhoudinge met alle boere en die landboubedryf te bewerkstellig.
Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, glo dat hegte bande van samewerking met haar gesmee sal kan word. Sy word wyd gereken as ’n senior en ervare politikus met ervaring van die landbou en grondsake wat beleidsekerheid kan bring.
Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê daar is vertroue dat Didiza langtermynvennootskappe met die landbou sal nastreef om die sektor te laat groei en volhoubare transformasie teweeg te bring.
Daar word ook gehoop dat me. Patricia de Lille, die nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, balans na die voorgestelde onteieningswetsontwerp sal bring, veral rakende die klousule wat onteiening op nulwaarde voorstel. De Lille is die leier van Good, wat onteiening sonder vergoeding teenstaan. “Ons hoop De Lille handhaaf haar party se teenkanting teen onteiening sonder vergoeding.”
Agri SA is ten gunste van die totstandkoming van ’n ontwikkelingsfonds wat opkomende boere kan help. Ander sake wat na aan die hart van die boeregemeenskappe lê, is droogtehulpverlening, ’n professionele polisiediens om misdaad doeltreffend te bekamp en werkskepping op die platteland.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, stem saam dat Didiza se ervaring en kennis van die landbou en grondhervorming haar op ’n goeie plek laat en Agbiz sien uit daarna om weer met haar saam te werk om die landbousektor inklusief en dinamies te laat groei.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.