
Die kompetisie was sommer pure pret, en ons lesers het ywerig hul foto-bydraes begin instuur nadat ons die “plaashek” oopgegooi het.
Hoewel nie al die inskrywings boere-selfies was nie, waardeer ons elke enkele bydrae. Teen sluitingstyd Vrydag het ons 'n "kortlys" van 34 foto's gehad waaruit ons die keuse moes maak. Julle het dit inderdaad nie vir ons maklik gemaak nie!
Tussen soveel wonderlike bydraes het dit behoorlik kopkrap geverg om die wenner aan te wys, maar mnr. Jan-Hendrik Goosen van die plaas Langdam by Stellenbosch kraai koning met sy boere-selfie van hom en een van sy hanskalwers, Poncho.
Van die lesers se reaksie op Goosen se foto was onder andere: “Dis die beste een ooit!”; “Boer soek 'n vrou?” tot “Wat sê die bees vir hom? Mmm… Wonder…”
Ons het ook besluit om klein Jessica Janse van Rensburg (amper 4) van De Eike-hoewe naby Ermelo as ons naaswenner aan te wys. Haar boere-selfie het ook talle “oe’s en aa’s” ontlok.
Landbouweekblad en Landbou.com wil al ons lesers bedank vir hul moeite met die kompetisie. Hou ons dop vir soortgelyke kompetisies in die toekoms!