
“Ná ’n forensiese ondersoek deur Die Kooperasie se direksie is gevind dat geen diefstal of verduistering van geld plaasgevind het nie,” het Die Kooperasie, wie se hoofkantoor op Humansdorp in die Oos-Kaap is, aan Landbouweekblad gesê.
‘Daar word egter getoon dat daar ongerymdhede met die rapportering van besigheidsinligting was. Hierdie inligting is intussen reggestel.”
Volgens die maatskappy het hy vir die eerste keer van die ongerymdhede bewus geraak in Oktober, toe sy fluitjieblaserstelsel aangedui het dat bestuursinligting wanvoorgestel is.
Die direksie het, nadat professionele raad ingewin is en ná deeglike oorweging, onmiddellik besluit om ’n onafhanklike eksterne ouditfirma aan te stel om die beweringe te ondersoek. Die direksie het ook stappe gedoen om die geloofwaardigheid van die ondersoekproses te verseker. Die betrokke personeel is daarna van 31 Oktober af op verpligte verlof geplaas.
Die Kooperasie verseker belanghebbendes dat hy ten volle in bedryf is en sal voortgaan om in gemeenskappe te belê.
Mnr. Jannie Louw, Die Kooperasie se bedryfshoof, sal waarneem as uitvoerende hoof, met mnr. Rikus Vorster, die groep se finansiële beampte, wat die administratiewe funksies sal behartig.
“Daar word krities na bemagtigingsprojekte gekyk om te verseker dat alle projekte verantwoordelik bestuur en gefinansier word.”
Volgens Die Kooperasie is verdere ondersoeke en interne prosesse steeds onderweg en gee alle betrokkenes hul volle samewerking.
“Alle belanghebbendes kan verseker wees van goeie korporatiewe beheer by Die Kooperasie en danksy dié interne kontroles en beheermaatreëls is hierdie kwessie uitgewys.”
Die Kooperasie sal in Januarie 2023 inligtingesessies in wyksverband met lede hou.