Vanjaar gaan ’n toetsjaar vir belangrike grond- en politieke kwessies wees. Dit lui onder meer die begin in van plaaslike koalisieregerings, die ANC se voorbereiding vir sy 55ste nasionale konferensie in Desember, asook die voorbereiding vir die algemene verkiesing in 2024.
Die bestuur van die pandemie en die gepaardgaande ekonomiese opbou sal ook ’n groot deel van die politieke proses wees, voorspel prof. Dirk Kotze, hoof van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Hy meen die grootste politieke kwessie gaan verpligte inentings wees, en hoe dit in die samelewing op verskillende terreine gaan werk. “Dit het die potensiaal om baie polariserend te wees.