Vraghouers met Suid-Afrikaanse sitrus is glo kort voor druktyd by hul aankoms in die Europese Unie (EU) teruggehou, ná die skielike instel van ’n nuwe reël oor kouebehandeling in Junie wat spesifiek op Suid-Afrikaanse lemoene van toepassing is.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV), sê die SASKV verneem dat vraghouers met sitrusvrugte, nie net lemoene nie, met hul aankoms in die EU teruggehou word.
“Dit is hoekom die Wêreldhandelsorganisasie spesifiek ’n proses van ses maande vir die inwerkingtreding van nuwe maatreëls vereis,” sê hy. Die EU-reël is ingestel terwyl vragte plaaslike vrugte ter see was.