Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder by CropLife SA, waarsku dat boere in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, waar sprinkane die afgelope maande gewaar is, waaksaam moet bly vir jong sprinkane, en dat daar tot elke prys gekeer moet word dat klein swerms voetgangers in enorme swerms begin saamdrom.
“Boere in die Karoo en Namakwaland het bewys dat klein swerms voetgangers vernietig kan word deur skape daaroor te jaag."
Die regering van Botswana het op 24 Augustus ’n verbod geplaas op die verskuiwing van alle diere met gesplete hoewe en alle permitte vir die vervoer van sulke diere opgehef. Dit volg op ’n vermoedelike en toe nog onbevestigde geval van bek-en-klouseer in ’n siektebeheersone in die noorde van die land.