
Regter A.J. Mahlangu het geen redes verskaf hoekom sy teen die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) beslis het nie, maar het in haar beslissing gesê die heroorname van die aanlegte deur die gemeenskap was onwettig. Nadat die aanlegte aanvanklik aan die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in ’n goeie, werkende toestand oorhandig is, het die situasie binne dae versleg en die KBI het weer beheer teruggeneem. Die dienstemaatskappy, Pionier, het toe die aanlegte namens die inwoners bestuur. Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook tot die geding toegetree om die KBI by te staan.
In die bevel verbied die hof die KBI om toegangsroetes tot die aanlegte te versper en sê werkers van die munisipaliteit of Magalies Water moet vrye toegang tot die aanlegte hê. Daarby het die hof beslis dat die munisipaliteit nie verantwoordelik gehou kan word vir enige koste wat die inwoners sedert die onwettige heroorname aangegaan het nie en Pionier moet die hofkoste dra vir die aansoek wat gesamentlik deur die LUR van Noordwes se departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, saam met die munisipaliteit en Magalies Water gebring is.
’n Teenaansoek dat Pionier die dienste moet bestuur, is verwerp en die regter sê sy sal later redes vir haar beslissings verskaf. ’n Aansoek deur AfriForum se private vervolgingseenheid dat mnr. Joseph Mogale, munisipale bestuurder, 90 dae tronkstraf opgelê moes word weens minagting van die hof is ook met koste verwerp.
Mnr. Andreas Peens, die KBI se regsverteenwoordiger, het in ’n brief aan die munisipaliteit dit duidelik gestel dat die inwoners die hofbevele sal gehoorsaam en voorgestel dat die aanlegte vanoggend (19 Mei) op ’n ordelike wyse aan die munisipaliteit se verteenwoordigers oorhandig moet word. Daar is voorgestel dat almal saam die onderskeie aanlegte moet inspekteer waarna die KBI hom sal onttrek. Indien die munisipaliteit nie vir die gesamentlike besoek aan die aanlegte te vinde is nie, sal die KBI hom onmiddellik onttrek, maar ’n opname maak van die toestand van die onderskeie wateraanlegte en die watervlakke in die opgaardamme.
Peens het dit ook op rekord gestel dat hoewel die hofbevele 13 Mei gedateer is, het die aansoekers niks gedoen om uitvoering daaraan te gee nie en die KBI het steeds koste aangegaan het om die stelsels te onderhou. Die oomblik toe hy van die hofbevele kennis gekry het, het hy aangebied om hom te onttrek en daar was geen poging om die bevele te minag nie. Die LUR en munisipaliteit sal verantwoordelik gehou word vir koste wat sedert 13 Mei aangegaan is.