Veeartse moet verpligte gemeenskapdiens van ‘n jaar lewer nadat hulle afgestudeer het.
Die Kabinet het die wysigings op die Wet op Veterinêre en Para-veterinêre Beroepe goedgekeur sodat veeartse verplig sal word om ‘n jaarlange gemeenskapsdiens te lewer.
Die wysiging van dié wet 19 van 1982 sal help om die tekort aan staatsveeartse, veral in landelike gebiede, op te los.
Van die sowat 3 000 geregistreerde veeartse in die land, is sowat 10% in die landelike gebiede is. In Suid-Afrika is tans slegs sowat 247 staatsveeartse in die land.
Geld beskikbaar gestel
Die Departement van Landbou, Visserye en Bosbou het altesaam R80 miljoen vir die huidige boekjaar en R120 miljoen vir die daaropvolgende jaar begroot om te verseker dat die indiensnemingsprogram suksesvol is.
Huidige studente in veeartsenykunde sal nie verplig word om diens te doen nie. Slegs studente wat in 2012 in dié rigting begin studeer, sal geraak word.
Hulle sal strategies in die land geplaas word, veral in die landelike gebiede waar ‘n groot tekort aan veeartse voorkom, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Visserye en Bosbou, vroeër gesê.
Die SA Veeartsenykundige Raad (SAVR) en kleinskaalse boere het hierdie planne van die departement verwelkom, want met meer veeartse sal beter voedselveiligheid en siektebeheer toegepas kan word.
8 September 2011