Ná dié week se verhoging in die groothandelprys van diesel is dit nou by vulstasies waarskynlik die duurste in die geskiedenis.
Dit is ook die eerste keer duurder as petrol. Sommige motoriste het ’n vroeë Kersgeskenk gekry toe die petrolprys verlede week met 11c/l verlaag is. Vir boere en motoriste wat dieselgebruikers is, was daar egter slegte nuus.
Waarskynlik meer as petrol
Die groothandelprys vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% het vanaf R10,01/l tot R10,48/l gestyg. Nadat vulstasie-eienaars hul winsmarges bygesit het, kos dit waarskynlik aansienlik meer as petrol wat ná die daling R10,66/l vir 95 oktaan in die binneland kos.
Die verhoging jaag boere op ’n jaargrondslag ’n bykomende R517 miljoen aan brandstofkoste uit die sak. Dit is veral sleg vir boere in die somerreëngebied wat tans plant en boere in ander gebiede wat nog oes.
Mnr. Tony Twine, ekonoom van Econometrix, sê die formule waarvolgens brandstofpryse bepaal word, veroorsaak dat die tradisionele siening dat diesel goedkoper as petrol moet wees omdat dit makliker is om te vervaardig, nie meer geld nie.
Vooruitsigte lyk sleg
Hy sê ’n mens moet in gedagte hou dat net 15% van diesel op ’n kleinhandelgrondslag verkoop word. Dit is byvoorbeeld in die geval van stedelinge met dieselmotors.
Waar diesel van die pad af gebruik word, word die bydrae tot die padongelukkefonds afgetrek en as diesel vir produksiedoeleindes (soos in die landbou) gebruik word, geld die rabat. Twine sê vooruitsigte vir dieselverbruikers oor die volgende drie maande lyk nie goed nie.
Die kans dat die dieselprys sal daal, terwyl die vraag in die Noordelike Halfrond steeds hoog bly, is nie goed nie.
9 Desember 2011