
Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, sê verlede Desember het ’n liter diesel sowat R12,95 in Gauteng gekos. Van Woensdag af sal dit R14,67 kos.
Mnr. Jeff Radebe, Minister van Energie, het die naweek gesê vanweë die versterking van die rand en die daling in internasionale oliepryse die afgelope maand sal brandstofpryse in Desember aansienlik daal. Luidens ’n verklaring van die Departement van Energie sal ’n liter petrol R1,84 goedkoper wees, terwyl die prys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% met R1,45/liter sal daal.
Diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% sal R1,47/liter goedkoper wees. Volgens die departement het die rand-dollar-wisselkoers in die periode waartydens die prys vasgestel is, van R14,79 tot R13,67 versterk. Dié versterking het tot ’n verlaging van 18,5c/liter in die petrolprys en 21,53c/liter in die dieselprys bygedra.
Die internasionale prys van ruolie het verlede maand gedaal van $81,15 per vat tot $65,79 per vat. Dié daling het ook ’n noemenswaardige bydrae tot die daling in pryse gemaak. Maree sê hoewel die daling in brandstofpryse goeie nuus is, is die brandstofpryse in Desember steeds hoër is as toe pryse in Maart begin styg het.
Die prys vir ’n liter diesel was in Maart R12,09 in Gauteng en verlede maand was dit R16,12. “Dis ’n styging van R4,03/liter. Desember se daling is dus sowat ’n derde van die prysstyging sedert Maart.” In Maart het ’n liter petrol R13,76 gekos. Dié prys het van toe af met R3,32/liter gestyg om verlede maand op R17,08/liter te staan te kom.
“Die petrolprys daal dus amper met die helfte van die styging van Maart tot November,” sê Maree. Talle kwessies het ’n impak op die faktore wat gebruik word om die land se brandstofpryse vas te stel.
Maree sê dit is nog te vroeg om te kan voorspel of pryse in Januarie sal styg of daal.
“As die rand sy goeie vertoning van die afgelope sewe dae volhou en die internasionale olieprys tussen $60 en $63 per vat bly, is die kanse goed dat ons nog ’n daling aan die begin van volgende jaar kan sien.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.