
Mense wat beroepe beoefen waar hulle verhoogde blootstelling aan dieseluitlaatgasse ervaar, loop 'n hoë gesondheidsrisiko.
Prof. Johan du Plessis, kenner van beroepshigiëne aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, sê die beroepe sluit mynwerker en dieselwerktuigkundiges in.
Hy sê die Internasionale Agentskap vir Navorsing oor Kanker (IARC) het bevestig dat die inaseming van dieseluitlaatgasse 'n regstreekse oorsaak van longkanker is. “Onlangse epidemiologiese studies het genoegsame bewyse gelewer sodat dieseluitlaatgasse nou as 'n menslike karsinogeen (kankerwekkende stof) geklassifiseer is.”
Hoe?
Volgens Du Plessis kan dieseluitlaatgasse wat deur die neus ingeasem word, tot in die longe beweeg. Die dieselpartikels word dan op die wande van die lugweg neergelê waar dit uiteindelik deur die selle geabsorbeer word.
“Binne-in dié selle ontlok dit toksiese effekte. Dit veroorsaak verskeie vorme van skade aan die sel se genetiese materiaal, wat op lang termyn kanker kan veroorsaak.”
Du Plessis sê probleme bestaan tans rondom die beskerming van werknemers se gesondheid in Suid-Afrika, hoewel werkgewers wetlik daartoe verpligting word. Probleme rondom dieseluitlaatgasse spesifiek is dat geen beroepsblootstellingsdrempels bestaan nie.
Boere en plaaswerkers?
Wat boere en plaaswerkers se gereelde blootstelling aan dieselvoertuie en masjinerie betref, sê Du Plessis hy meen nie dat dit probleme sal veroorsaak nie.
Die studies wat gedoen is, het spesifiek gefokus op mynwerkers wat lang tydperke saam met dieseldampe ondergrond vasgekeer word, of vragmotorbestuurders wat gereeld op die pad is en ook oor lang tydperke blootgestel word.
“Dié werkers word dus nie aan skoon, vars lug blootgestel soos wat die geval is op ’n plaas nie. Die vlakke van dieseluitlaatgasse wat 'n boer of 'n plaaswerker bereik, is so verdun dat ek nie kan insien dat dit 'n probleem kan veroorsaak nie,” sê Du Plessis.