Die jongste styging in die dieselprys van tussen 30c en 32c per liter, wat op 2 Februarie inskop, gaan produksiekoste met R37 miljoen verhoog. Die Departement van Energie het Vrydag (28 Januarie) aangekondig dat petrol terselfdertyd 26c per liter duurder gaan wees.
Die prys van paraffien gaan met tussen 41c en 42c styg. Me. Lulu Krugel, ‘n ekonoom van KPMG, sê hoewel die rand-dollar wisselkoers die internasionale olieprys in die eerste weke van Januarie met sowat 10c teengewerk het, het daardie buffer die laaste twee weke al hoe kleiner geword, en staan dit tans op 0,1c.
Volgens Krugel het die rand-dollar-wisselkoers tydens die opname periode tussen R6,62 en R7,10 beweeg, terwyl die internasionale olieprys rondom vlakke van $97 was.
Nog hoër koste
Intussen sê Graan SA dié verhoging gaan ‘n slag wees vir produsente wat reeds onder hoë insetkoste gebuk gaan. Volgens die organisasie word ‘n gemiddel van sowat 70 liter diesel per ha vir graanproduksie verbruik.
Dit is vandat die grond bewerk begin word totdat die gewasse gestroop word. Met die mielie-, sojaboon- en ander aanplantings wat tans op die lande staan is sowat 30 liter per ha se dieselverbruik vir die seisoen oor, en die organisasie skat dat dié brandstofprysstyging produksiekoste soveel gaan verhoog.
In dieselfde asem sê die organisasie dat brandstofpryse tradisioneel dié tyd van die jaar styg, weens veral die winter en gevolglik hoër petroleumverbruik in Europa en Amerika. Hulle merk dus op dat wanneer brandstofpryse later in die jaar weer moontlik daal, dit ‘n positiewe effek op produksiekoste sal hê.
2 Februarie 2011