Die dieselprys het die hoogte ingeskiet met die jongste prysverhoging van 36c per liter.
Mnr. Tony Twine, senior ekonoom by Econometrix, sê hoewel die rand/dollar-wisselkoers en die internasionale olieprys ‘n aandeel in dié styging het, kan dit grootliks aan die winter in die noordelike halfrond en die gevolglike hoër vraag na diesel toegeskryf word.
Die prys van petrol sal van Woensdag, 2 November, met 23c per liter styg, terwyl paraffien met tussen 41c en 55c per liter duurder sal wees.
Volgens die Departement van Energie het die internasionale pryse van petrol, diesel en paraffien tydens die prysbepalingstydperk gedaal. Dié dalings is egter teengewerk deur die swak vertoning van die rand teen die dollar, wat stygings van tussen 33c en 35c tot gevolg gehad het. Dié stygings is teengewerk deur die olieprys.
Volgens Twine kan ‘n verdere styging in veral die prys van diesel en paraffien in Desember 2011 verwag word.
“Die prys van diesel en paraffien styg jaarliks tussen Oktober en Maart weens die winter in Europa, en die res van die noordelike halfrond, wat tot ‘n verhoging in vraag lei,” sê Twine.
Hy sê dit is tans moeilik om te bepaal hoe groot die styging sal wees, aangesien al die faktore betrokke by die bepaling van brandstofpryse tans wisselvallig is.
28 Oktober 2011