
Dieselrabatte, regulatoriese rompslomp, die monitor van insetkoste en markdeursigtigheid is alles kwessies wat onder die loep gekom het op Graan SA se streekvergaderings die afgelope weke.
Op dié vergaderings gee Graan SA terugvoer oor die werk wat hy doen om dié kwessies in werkkomitees saam met die regering of belangegroepe uit die private sektor op te los.
“Die landbou kan die grootste bydrae van al Suid-Afrika se ekonomiese sektore lewer om die ekonomie te laat groei,” het mnr. Jaco Breytenbach, boer van Fouriesburg en streekverteenwoordiger van Graan SA, op ’n streekvergadering van dié organisasie naby Theunissen in die Vrystaat gesê. Hy het gepraat oor Graan SA se deelname aan die nuwe landbouplan wat deel van pres. Cyril Ramaphosa se oorkoepelende strategie is om saam met kundiges uit die onderskeie sektore te werk om groei aan te wakker.
“Ons beleef dit plek-plek dat ons ’n beter gesindheid van die departement van landbou kry en ons hoop om dit al hoe meer te kry.”
Die fokusareas van die landbouplan sluit in die uitbreiding van landboumarkte, veral in Oosterse lande, opleiding en vaardigheidsontwikkeling, volhoubare finansiering, klimaat- en rampbestuur, asook die bevordering van plant- en dieregesondheid.
Hoenderbedryf
Breytenbach sê die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf is vir plaaslike graanboere belangrik. “As ons dit kan regkry om meer plaaslike witvleis uit te voer en ons het nie nodig om goedkoop hoenderstukke in te voer nie, kan dit beteken dat ’n miljoen ton meer mielies in Suid-Afrika verbruik sal word.”
Danksy handelsprotokolle wat met China gesluit is, kan Suid-Afrikaanse sojabone in die toekoms daarheen uitgevoer word wanneer daar ’n oorskot is nadat China ’n afvaardiging gestuur het om die plaaslike bedryf te inspekteer en hom van die standaarde te vergewis.
Die landbou-ontwikkelingsagentskap wat as deel van die landbouplan gestig is, kan baie help om nuwe boere te vestig, het mnr. Luan van der Walt, landbou-ekonoom van Graan SA gesê. “Dié finansieringsmodel kan kapitaal ontsluit om enige jong boer wat nie kollateraal het nie, te help om te begin boer.”
Kunsmis, dieselrabatte, gifstowwe
Die gehalte van produkte soos kunsmis word deurlopend gemonitor en dit werp vrugte af, het Van der Walt gesê. “Daar is tot dusver hierdie seisoen reeds 100 kunsmismonsters en ses kalkmonsters geneem en voorlopige resultate toon groot verbeterings in die gehalte van die produkte teenoor die vorige twee seisoene se monsters.”
Oor die vordering met die hersiening van die stelsel vir die terugbetalings van dieselrabatte, het hy gesê ’n aankondiging word in mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingstoespraak op 26 Februarie verwag. Mnr. Corné Louw, ekonoom van Graan SA, was deel van die gesprekvoering wat Agri SA en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gevoer het om die stelsel, wat boere baie probleme besorg, te hervorm. “Ons het aan die SAID verduidelik van enkel- en dubbeldoelvoertuie en ons is hoopvol dat die stelsel só kan verander dat ons vir enkeldoelvoertuie soos stropers, wat slegs op plase gebruik word, ’n terugbetaling van 100% van die dieselverbruik kan kry sonder dat die verbruik volledig in die logboek aangeteken word,” het Van der Walt gesê.
Oor hoë koste van produkte soos gifstowwe en chemikalieë het mnr. Willie Marais, streekvoorsitter van streek 22 (Theunissen), gesê boere moet met mekaar praat oor die pryse wat hulle vir die produkte betaal. “Ons het gevind dat die prys wat boere in een distrik vir ’n spesifieke pak gifstof betaal het, tot 20% verskil het. Boere wil nie vir mekaar vra hoeveel hulle betaal het nie en verskaffers buit dit uit.”
Vanuit die gehoor het boere gevra dat Graan SA met die verskaffers van gifstowwe moet onderhandel om houers wat nie leeg gebruik is nie, terug te neem en boere sodoende te help dat die inhoud op ’n verantwoordelike wyse vernietig word.
Boere op die vergadering was dit eens dat hulle vanjaar ’n baie beter seisoen as die vorige een beleef en dat oeste bogemiddeld kan wees.
“Die gras is mooi. Ek het lanklaas die veld so mooi gesien en die mielies lyk ook goed. Ons is baie dankbaar vir die oeste wat in hierdie stadium baie mooi lyk,” het Marais gesê.