
Taljaard stap al ’n pad van meer as 20 jaar met Graan SA saam hoewel hy nie regstreeks by die organisasie betrokke was nie. “Toe ek nog met my studie in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) besig was en Graan SA nog in Bothaville was, het ek al saam met dr. Kit le Clus en mnr. Nico Vermaak van Graan SA aan projekte gewerk,” sê hy. Hy het ook sy doktorsgraad in landbou-ekonomie aan die UV verwerf.
Ná sy studie het hy drie jaar heeltyds mielies in Noordwes geplant en, volgens hom, baie by van die beste boere in die land geleer. “Ek was ook drie jaar by NWK-boerdery betrokke waar ons 19 000 ha graan vir NWK op kontrak en met die samewerking van ander produsente geplant het.” Daarna was hy onder meer streekbestuurder vir Monsanto in Noordwes en bemarker van Monsanto se mieliesaad en produkte vir gewasbeskerming, terwyl die landbou 19 jaar lank steeds sy stokperdjie as deeltydse boer was.
Sedert die Bayer-oorname van Monsanto was hy vir die bemarkingstrategieë vir kleingraan en nywerheidsgewasse verantwoordelik.
Taljaard sê hy sien uit na die nuwe taak en om saam met ou kollegas en kennisse te werk met die oog op ’n suksesvolle bedryf. “Ek is oortuig dat goeie verhoudinge die sleutel tot ons sukses vorentoe sal wees. Almal in die bedryf moet mekaar vertrou, en openlik en eerlik met mekaar saamwerk om ’n situasie vir die landbou te skep waarbinne almal wen.”
Hy wys op die toenemende tempo van verandering in tegnologie en die manier waarop sake gedoen word. “Die landbou is deel van hierdie veranderinge en as Graan SA sal ons aan die voorpunt moet staan en die leiding moet neem. Ons sal graanboere betekenisvol moet ondersteun sodat hulle winsgewend en volhoubaar kan boer. Die waarde van ons ondersteuningsdiens moet relevant en tot voordeel van alle graanboere – groot en klein – wees.”
Taljaard sê ondersteuning met die toepassing van die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking sal ook ’n voorkeursaak wees. “Dit is van die grootste belang om die winsgewendheid van die graanbedryf te verseker en op alle vlakke uit te bou. Dit geld alle boere – van die een wat op 1 ha produseer, tot die een wat duisende hektare verbou. Winsgewendheid is vir almal belangrik.”
Hy sê die inperkingstydperk het gewys hoe belangrik die landbou werklik is. “Die landbou is verseker die belangrikste sektor van enige ekonomie, asook vir politieke stabiliteit. Suid-Afrika het van die beste gehalte voedsel teen die mees bekostigbare pryse en almal buite die landbou moet dit ook besef. Daar is groot geleenthede en groot kwessies in die landbou en dit is genoeg om ’n mens mos opgewonde te maak.”
Graan SA sê in ’n verklaring Taljaard se aanstelling volg op ’n deeglike werwingsproses onder toesig van ’n spesiale komitee van die hoofbestuur met die hulp van ’n werwingsmaatskappy, The Talent Connection, wat verskeie kandidate gekeur en onderhoude met hulle gevoer het.
“Dit was baie belangrik vir Graan SA om die regte aanstelling te maak wat die organisasie in die volgende era kan inlei,” sê mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA. “Pieter het wye ervaring in die graansektor en het baie nou saam met produsente gewerk.
“Met sy bedanking as uitvoerende hoof wil ek Jannie van harte bedank vir sy jare lange toewyding en harde werk om die organisasie te bring waar dit vandag is. Hy sal nie vir die landbou verlore gaan nie en sy mentorskap en geestelike leiding sal die bedryf steeds in die toekoms beïnvloed.”
Taljaard sal in Augustus by Graan SA begin om saam met De Villiers te werk.