
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, wat as spreker op die vereniging van veevoervervaardigers (Afma) se simposium kwessies moes uitsonder wat boere snags wakker hou, het hierdie ses as ván die belangrikste uitgesonder.
Hy het beklemtoon dat die landbou in Suid-Afrika gesond gegroei het. “Die landbou kan die leiding in Suid-Afrika neem met ekonomiese groei en werkskepping en daar is rede vir die regering en die sakesektor om optimisties te wees oor wat die landbousektor kan bereik. Die waarde van landbou het meer as verdubbel sedert 1994.”
Hy het gesê van 2010 tot 2020 het die landbou in bruto waarde met 44% toegeneem en die volume van produksie het in dieselfde tydperk met 19% gegroei. Daar is groot potensiaal vir verdere groei mits die beperkinge uit die weg geruim kan word.
“Aan die uitvoerkant is daar toenemende frustrasie oor marktoegang en daar is diegene wat sê die regering doen nie genoeg nie. Dit is aan die een kant waar omdat produksie baie toegeneem het, maar ek moet ook sê met verloop van tyd het die regering al baie gedoen om nuwe markte oop te kry as ’n mens kyk na handelsooreenkomste binne byvoorbeeld Suider-Afrika, die Europese Unie en die Afrika-vryhandelsooreenkoms.”
Politici se siening
Hy sê politici se siening van die landbousektor het al aansienlik verander. In die ANC se beleidsdokumente word die belangrikheid van die sektor erken. “Daar is ook erkenning vir die feit dat grondhervorming op ’n baie meer vreedsame en produktiewe manier moet geskied deur die grondhervormingsagentskap wat beoog word.”
Sihlobo sê die onbekwaamheid in die staatsadministrasie behels onder meer die onvermoë om plantsiektes doeltreffend te bekamp, wetgewing oor landbouprodukstandaarde wat nie behoorlik toegepas word nie, en ondoeltreffende biosekerheidsmaatreëls. “Die bekamping van bek-en-klouseer moet absoluut voorkeur geniet, want die veebedryf verteenwoordig omtrent die helfte van die landboubedryf se waarde.”
Verder is verbeteringe aan infrastruktuur vir paaie, spoorvervoer en hawens dringend nodig en elektrisiteitsbeskikbaarheid moet dringend verbeter word. “Daar is ook groot kommer oor misdaad en landelike veiligheid. Veediefstal is ’n groot probleem en daar is ook ’n toename in georganiseerde misdaad waar groot skade aan infrastruktuur soos kraglyne en spoorlyne aangerig word.
“Dit is alles kwessies wat boere snags laat wakker lê en beleggings in die landbou beperk. Dit beperk ook die deelname van nuwe swart boere in die sektor.”
Hy het beklemtoon die probleem lê nie by beleid nie. Almal in die land moet hulle net verbind tot die behoorlike uitvoering van beleidsaspekte soos vervat is in die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.