
Augustus se voedselprysinflasie toon op ’n jaargrondslag ’n verhoging van 11,3% in die prys van voedsel en nie-alkoholiese drankies soos tee. Dit is die skerpste styging sedert 2007.
Brood, grane en vleis was die grootste bydraers van die styging en die swakker wisselkoers het net momentum aan die styging gegee.
Volgens die nasionale landboubemarkingsraad (NLBR) het die koste van spesifieke kosprodukte wat mense in stede koop, in Julie en Augustus gestyg. Die verskaffing van groente bly byvoorbeeld onvoorspelbaar weens weerstoestande en daarom het groentepryse in Augustus voortgegaan om druk op kosprysinflasie te plaas.
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) verwag voedselpryse kan hoog bly namate die jaar einde se kant toe staan.
BFAP sê hoewel ’n verlangsaming in vleispryse help om maandelikse inflasionêre druk te verlaag, sal rooivleispryse hoog bly en moontlik sorg dat die voedselinflasie vir die res van die jaar bo 7% bly.
“Verbruikers het steeds beperkte vermoëns om verdere prysstygings te kan absorbeer. Daarom kan die koers waarteen vleispryse toeneem momentum teen die einde van die jaar verloor,” skryf BFAP.
Wat sit agter die styging?
Me. Melissa Moore, beleggingsanalis by Future Growth-batebestuurder, sê die impak van covid-19 en Rusland se oorlog in Oekraïne is steeds van die dryfvere agter die vertonings van die landbousektor, voedselproduksie en landbou-vervaardigingsektor.
“ ’n Perfekte storm het die wêreldekonomie die afgelope paar jaar getref. Dié twee beduidende humanitêre en geopolitieke wêreldgebeure so na aan mekaar het ’n ongunstige uitwerking op die wêreld se ekonomiese groei. Dit veroorsaak steeds wêreldwyd probleme in logistiek en vir verskaffingskanale, jaag vervoerkoste op en bly ’n direkte oorsaak van stygende pryse van belangrike landboukommoditeite.”
Brandstofpryse
Die voortslepende oorlog deur Rusland en die gepaardgaande sanksies teen die land, jaag energie- en brandstofpryse op. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was die brandstofprys in Junie 45,3% hoër, die grootste jaarlikse styging in die brandstofprys sedert die SSA sy verbruikersprysindeks in 2009 begin saamstel het.
Kunsmis
“Rusland is die grootste uitvoerder van chemiese kunsmis en Suid-Afrika is ’n netto invoerder daarvan. Daarom word Suid-Afrika swaar getref deur die stygende kunsmispryse. Suid-Afrika ervaar ’n styging van ongeveer 60% in kunsmispryse tot dusver vanjaar. Dít volg op ’n styging van ongeveer 50% wat reeds in 2021 plaasgevind het weens covid-19-verwante faktore,” skryf Moore.
Verskeping, elektrisiteit en hawens
Die landbousektor maak staat op logistiek en vervoer om produkte by sleutelmarkte uit te kry. Die koste van vervoer bly uiters hoog.
“Suid-Afrika het besonder swak infrastruktuur vir vervoer en logistiek. Dit sluit die spoorwegnetwerk en hawens in. Die hawens se produktiwiteitsvlakke is ver onder internasionale standaarde as gevolg van verouderde en swak hawe-infrastruktuur en toerusting.”
Eskom het onlangs aansoek gedoen by Nersa om sy tariewe met tot 34% in April te verhoog. Nersa moet teen November hieroor besluit.
Land Bank
Die Land Bank het eens nagenoeg 30% van die landbouskuld gefinansier, maar sukkel sedert April 2020 self om sy skuldverpligtinge na te kom.
“Suid-Afrikaanse landbouprodusente ervaar probleme om die nodige finansiering te kry om hul werkskapitaal én kapitaaluitgawes te onderhou. Dit is maklik vir groot, kommersiële produsente om alternatiewe finansiering in die hande te kry, maar die kleiner boere en produsente sukkel daarmee.”
Wat hou die toekoms in?
Die groeiende wêreldbevolking, verstedeliking en die opkoms van die middelklas sal voortgaan om die vraag na landbou-kommoditeite aan te dryf.
“Die aanvraag na kos sal in die volgende dekade groei. Om ’n voedselkrisis te voorkom, moet regeringsbeleid die landbousektor ondersteun en beleggings in die landboubedryf gemaak word.”
Sy hoop produsente verhoog produksie as gevolg van hoër kommoditeitspryse, al is dit net op kort termyn.
“Die oesskattingskomitee se Augustus-data wys meer wintergewasse, veral koring, kanola en gars, is aangeplant.”