
Die EU-owerheid het slegs 23 dae nadat die nuwe regulasies wat op 14 Junie afgekondig is, probeer om dit af te dwing.
“Dit was onmoontlik vir Suid-Afrikaanse produsente om hul nakoming te verseker en dit is duidelik hoe ongeregverdig en diskriminerend hierdie wetgewing is. Dit het verwoestende gevolge vir die plaaslike sitrusbedryf,” sê mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging.
“Die plaaslike bedryf is steeds van mening dat die kouebehandeling wat in die nuwe regulasies voorgeskryf word, strydig is met wetenskaplike bewyse. Dit is ’n arbitrêre en onnodige handelsbeperkende maatreël en oortree derhalwe internasionale vereistes vir sulke fitosanitêre handelsregulasies.”
’n Geskatte 3,2 miljoen kartonhouers sitrus ter waarde van R605 miljoen (€38,4 miljoen) word deur die skielike toepassing van die regulasie geraak. Volgens berigte is daar ook honderde vraghouers met Suid-Afrikaanse sitrus wat deur owerhede in die EU met hul aankoms aangehou word. “Sonder onmiddellike politieke ingryping bly dit ’n bedreiging en hierdie besendings sal deur EU-owerhede vernietig kan word.”
Chadwick sê die departement en regering het verskeie pogings aangewend om die saak op te los. “Ons verneem die regering en departement het besluit om die saak nou met die WHO-konsultasieproses aan te pak toe dit duidelik geword het vorige pogings was nie suksesvol nie.”
Die indien van die dispuut verskuif die kwessie nou na ’n multilaterale vlak.
“Dié krisis bedreig nie net die volhoubaarheid en winsgewendheid van plaaslike produsente en 140 000 werksgeleenthede nie, maar sal ook beteken daar is minder en duurder sitrus in Europese supermarkte. Ons kan dit eenvoudig nie toelaat nie.
“Dit is klaarblyklik niks anders nie as ’n politieke stap deur die Spanjaarde wat uiteindelik kan beteken duisende plaaslike produsente en mense se lewensbestaan word vernietig. Dit kan ook veroorsaak dat miljoene kartonhouers met topgehalte vrugte deur die EU owerhede tot niet gemaak word.”
Agri SA sê die verklaring van die dispuut teen die EU is welkome nuus.
“Ons stem saam met die Sitruskwekersvereniging dat lede van die WHO sy ooreenkomste moet nakom en nie diskrimineer teen invoer (van goedere) vanuit verskillende oorsprong nie,” sê mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Van der Rheede sê Agri SA is baie bekommerd oor die impak op die bedryf en sitrusboere as die EU voortgaan met hierdie “diskriminerende maatreëls.”
“Die instelling van sanitêre en tegniese hindernisse wat handel betref, diskrimineer en is nie gegrond op internasionale standaarde of gesonde wetenskap nie. Dit is teen die gees van die ekonomiese samewerkingsooreenkoms tussen die EU en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap waartoe in 2016 ingestem is.”
Volgens hom is die aksie wat die departement van handel en nywerheid gedoen het, baie betekenisvol. “Suid-Afrika het nog nooit voorheen as ’n klaer ’n WHO-saak gemaak nie. Daarby het geen Afrika-land al ooit ’n WHO-saak teen ’n Eerstewêreldland aanhangig gemaak nie.”
Volgende stappe
“Met die indien van hierdie aansoek om ’n konsultasieproses, word die saak nou openbare kennis vir alle WHO-lede en ’n WHO-saaknommer word ook daaraan toegeken.”
Hy verduidelik volgens die WHO se dispuutbeslegtingreëls moet die EU binne 30 dae in gesprek met Suid-Afrika tree om ’n oplossing te vind.
“Indien dit nie slaag nie, het Suid-Afrika 60 dae om te vra vir die WHO-paneel, soortgelyk aan ’n regbank van drie WHO-regters. Dit kan ongeveer 10 maande duur om die proses af te handel. Dít maak sake baie doeltreffender as enige ander internasionale tribunaal of plaaslike hofsaak.”
Van der Rheede sê uiteindelik gebruik die EU valskodlingmot as ’n voorwendsel om Spaanse sitrus op ’n onregverdige wyse, en gesteun op valse eise, teen Suid-Afrika se hoogs mededingende uitvoerlemoene na die EU te beskerm.
“Vanaf ’n Suid-Afrikaanse landbou-oogpunt is dit teleurstellend, want dit wil voorkom asof die EU grof te werk gaan met sy verpligtinge ingevolge die bepalings van die samewerkingsooreenkoms. Dit laat mens wonder of die EU enigsins ’n begrip het van wat ‘samewerking in landbou’ beteken binne die konteks van die ooreenkoms.”
Dié ooreenkoms maak dit makliker vir mense en sake-ondernemings van die EU en lidlande om onderling te belê, met mekaar handel te dryf en ontwikkeling in Suider-Afrika aan te moedig.
“Hierdie fitosanitêre en tegniese hindernisse wat die EU nou wil instel, maak ’n grap daarvan en dit kan nie onaangeraak bly nie.”