
Distell het inentings in die Wes-Kaap ’n versterker toegedien deur landwyd inentingsentrums vir die publiek te open. Die Bergkelder op Stellenbosch huisves een van dié sentrums.
Distell se inentingsprogram het aanvanklik op sy personeel en hul gades gekonsentreer. Die maatskappy sluit hom nou by ’n groeiende lys private maatskappye aan wat Suid-Afrika se inentingsveldtog steun.
Mnr. Richard Rushton, uitvoerende hoof van Distell, sê deur te help om mense in te ent, help die maatskappy die Suid-Afrikaanse bevolking om kudde-immuniteit vinniger te behaal. “Inenting is die enigste weg uit die pandemie wat ons in staat stel om ’n volhoubare terugkeer na ekonomiese aktiwiteite te bewerkstellig en mense wat hul werk verloor het, terug by die werk te kry. Almal wat ingeënt word, beskerm nie net hulself nie, maar verminder ook die moontlikheid dat die virus versprei.
“Ons verminder ook die las op die regering se inentingsprogram, wat verdere hulpbronne beskikbaar stel sodat meer mense vinniger ingeënt kan word. Ons kan baie lewens red en ’n herhaling van die verwoestende derde golf voorkom as ons genoeg mense inent voor die volgende golf tref.”
Rushton sê dat die drankbedryf, ná meer as ’n jaar van versmorende beperkings, optimisties is dat nou begin kan word om die ekonomie te herbou deur inentings te bespoedig.
Distell het vyf inentingsentrums by onder meer Die Bergkelder op Stellenbosch, in Springs en Wadeville in Gauteng, in Gqeberha in die Oos-Kaap en op New Germany in KwaZulu-Natal waar inentings gratis verskaf word. Diegene wat ingeënt wil word, moet by https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/ registreer.
Besoek https://www.distell.co.za/newsroom/Get-your-jab-with-us/ vir nog inligting.