
Die transaksie sal volgens Heineken op 1 April van krag word en beteken Distell gaan binnekort denoteer.
Heineken beoog met die transaksie om die beherende aandeel in Namibian Breweries Investment Holdings Limited (NIH) en die Distell-groep se portefeuljes vir wyn, spiritualieë en gegeurde alkoholiese drankies te bekom deur middel van Newco, ’n maatskappy wat deur die Heineken-groep beheer word.
Heineken se totale belegging in Newco sal ongeveer €2,4 miljard (ongeveer R48 miljard) wees, in ruil vir ’n 65%-aandeelhouding. Dit behels onder meer ’n kontantuitbetaling van ongeveer €1,2 miljard wat uit effekte, bestaande kontant, hulpbronne en toegewyde kredietfasiliteite gefinansier moet word
Mnr. Dolf van den Brink, uitvoerende hoof van Heineken, het kort nadat die nuus bekend gemaak is, gesê hy is verheug dat die mededingingstribunaal die transaksie goedgekeur het. “Ons is baie opgewonde en is daartoe verbind om ’n sterk vennoot vir groei te wees en ’n opbouende impak te maak in die gemeenskappe waarin ons werk.”
Heineken het reeds bedrywighede in Suid-Afrika, onder meer die Sedibeng-brouery waar ’n reeks bierhandelsname soos Heineken, Amstel en Windhoek gebrou word.
Die voorgenome transaksie tussen die Nederlandse bierreus en Distell wat al in 2021 aangekondig is, het vroeër vanjaar onder die soeklig gekom toe AB InBev, die grootste bierbrouer ter wêreld en eienaar van SAB, daarteen beswaar gemaak het. Die mededingingskommissie het aanbeveel die transaksie kan voortgaan mits sekere voorwaardes, soos aandeelhouding, ook nagekom word. Een daarvan was dat Strongbow verkoop moet word aan ’n maatskappy waarvan die meerderheid eienaarskap in swart besit is.
SAB wou eerder hê Distell moet sy Hunters-handelsmerk verkoop. SAB sal ook nie omgee as Distell sy Savanna-handelsmerk verkoop nie, maar trek neus op vir Strongbow al het SAB aanvanklik belangstelling in Strongbow getoon.
Distell se aankondiging oor die transaksie kan hier gelees word.