
“Daar is sommer ’n anderse gevoel in die lug. Vir die eerste keer in jare kan ek die reuk van reën ruik. Daar is ’n varsheid in die lug en ons asem elke oomblik in,” vertel mnr. Laubscher Coetzee, die opgewondenheid in sy stem is hoorbaar.
Coetzee boer sowat 10 km suidwes van Oudshoorn met volstruise en lusern.
Hy het sedert Sondagmiddag, toe die eerste reëndruppel op sy plaas geval het, al meer as 80 mm gemeet.
“Ek kan dit nie glo nie. Binne ’n oogwink het alles verander. 48 uur voor dit sou ons nie gedink het dit sou reën nie. En nou maak ons die trekkers vol diesel en skielik kan ek weer begin boer.”
Hy sê die riviere en klowe loop weer vol – “iets wat hulle nie elke dag sien nie”.
“Vanoggend om 02:00 het ek wakker geword van donderweer en die geluid van reën wat op die dak val. Ek hoop die ding – die droogte – is nou verby.”
Mnr. Cornel Landman, ’n skaap-en-volstruisboer in die Rooiheuwel-area, het sedert Sondag al 86 mm reën gemeet.
“Dit het lekker by ons gereën. Daar was baie water en ons het bietjie skade gely, maar niks wat ons nie kan regmaak nie. Dis steeds báie beter as ’n droogte.”
Hy sê dit is die eerste keer sedert 2014 dat hy soveel reën op een slag kry. Dit is ook die eerste keer sedert 2016 dat die Stompdrifdam meer as 10% vol is en die Kammanassiedam meer as 30%.
“Hulle voorspel weer die naweek vir ons reën. En dit is presies wat ons soek – opvolgreën. Ons woon in ’n wonderlike gebied. As dit eers hier reën, dan is daar geen lekkerder plek om te boer nie.”
Landman is een van vele boere wat weens die droogte gedwing is om sy boerdery in ’n ander rigting te stuur. Hy het van ’n besproeiingsboerdery na skaap-en-beesboerdery oorgeslaan.
“Kyk, die reën breek dalk nie die droogte heeltemal nie. Maar ons almal se gemoedere is duisend maal beter. Almal leen nou my planter om te saai. My saad is ook al gekoop, wanneer ek my planter terugkry, sal ek ook kan begin,” skerts hy.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.