
Die ooi het genoeg melk. Al vyf die lammers lewe en drink goed, maar hulle gee vir die kleinste een melk, sê mnr. Hanno Joubert van die La Berg-stoetery by Swellendam.
Hy en sy pa, Hansie, boer met Döhne’s en renperde.
Hulle het verlede jaar begin om intensief te boer met ’n trop van 80 ooie volgens die Mamre-stelsel. Die ooie loop nie op weidings nie, maar kry ’n voermengsel van Meadow.
Hoewel die 80 ooie almal jong ooie is, is die vyfling nie die ooi se eerste lammers nie. Sy het sonder hulp gelam.
Joubert sê vier van die ooie in die intensiewe groep het in April vierlinge gekry en drie ooie het gisteraand twee drielinge en ’n tweeling gekry. Hulle volg ’n agtmaandelamstelsel.
Landbouweekblad het verlede Junie berig oor ’n sesling-Dormerlammers wat in mnr. Pierre Redelinghuys se Dormerstoetery Ell-Roy buite Hartenbos gebore is. Vyf van die lammers het oorleef.