
Die dekolonialisering van landbouleerplanne is 'n móét, reken dr. Johan van Rooyen, veterinêre spesialispraktisyn en jarelange dosent by die Landboukollege Grootfontein.
Van Rooyen het gereageer op studente by dié kollege se eise dat die leerplan by Grootfontein gedekolonialiseer moet word.
“Dit is 'n moet. Ons is in Afrika en ons leerplanne moet die toestande waaronder Suid-Afrikaanse boere funksioneer weerspieël. Dit gaan nie help om 'n Wes-Europese denkwyse te probeer afdwing nie. Ons studente moet uiteindelik so goed toegerus wees dat hulle by die instituut kan uitstap en begin boer,” sê Van Rooyen.
Protes
'n Groep Grootfontein-studente het onlangs protes teen beweerde swak dienslewering by dié kollege aangeteken deur ’n nagemaakte varkhok by die kampus se ingang op te rig. Ander griewe sluit in 'n gebrek aan instandhouding van geriewe, miskenning van taalregte en die impak van konflik tussen die vakbonde Nehawu en die Public Servants Association (PSA) op die kampus.
Van Rooyen keer op 6 Julie terug na die kampus, na 'n skorsing wat verband hou met dié konflik. “Ek keer weer op 6 Julie terug, maar ek het tot op datum nog geen kommunikasie van die departement hieroor ontvang nie.”
Een van die redes waarom hy wil terugkeer is om die kurrikulum te voltooi. “Die skorsing het ’n geweldige negatiewe impak op my studente gehad. Vakke wat ek aangebied het, is netso vir nuwe lektore gegee en dit het onderrig ontwrig.”
Swart boere
Dr. Van Rooyen sê sy terugkeer is nie daarop gemik om slegs wit studente te bevoordeel nie.
“Ons het swart boere nodig in die land. Na my mening moet hulle deur die landbou opgeraap word, omdat dit net meer sin maak opbesigheidsvlak. Die demografie van landbou se kliënte verander en dit kan jou besigheid net soveel meer goed doen wanneer een van jou bestuurslede met potensiële nuwe kliënte kan skakel.
“Daar sal egter ’n verskuiwing moet kom in die manier waarop boere opgelei word, omdat dit nie net kan berus op die memorisering van feite uit ’n boek uit nie – ons studente moet leer om op hulle voete te dink en planne te maak.”