
What a wonderful world, sing Louis Armstrong op die radio terwyl ek op pad is na ’n huldigingsdiens vir dr. Michael Bradfield (56), geëerde dierewetenskaplike wat onlangs aan kanker gesterf het.
Toe dink ek: Michael het inderdaad ’n wonderlike wêreld vir ons agtergelaat. Daarvan het familielede, boere, vriende en landboumense ook getuig tydens die diens by die Irene-klub by Pretoria. Net so gepas was die lied You raise me up, wat tydens die diens gesing is, want hy het menige mens as’t ware opgehef.
Hy was uitvoerende hoof van die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF) en van die Wagyu-beestelersgenootskap van Suid-Afrika, hoof van Breedplan en vader van die LRF-Veeskool wat jaarliks by Aldam gehou is.
Mense wat op die diens oor Bradfield se lewe getuig het, het deur die bank vertel van sy strewe om veeproduksie met wetenskaplike metodes na ’n hoër vlak te voer, die aanwassyfer te verhoog, meer geld in die boere se sakke te sit en ’n beter naspeurbaarheids- en dieregesondheidstelsel vir Suid-Afrika in werking te stel.
Mnr. Koos van der Ryst, voormalige nasionale voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, het gesê Bradfield het ’n voorbeeld gestel en alles in sy vermoë gedoen om ’n beter bedeling vir vleisprodusente daar te stel. Hy was ’n akademiese reus, praktiese mens, vredemaker, vriend en iemand vir wie landbouers groot respek gehad het. “Kom ons bou voort op sy droom.”
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die LRF, wat van Namibië na Suid-Afrika gevlieg het om teenwoordig te wees, het gesê Bradfield laat plaaslik en internasionaal ’n groot leemte agter. Hierdie seun van die Oos-Kaap was ’n strateeg wat ’n groot bydrae tot die veebedryf gelewer het met onder meer die aanbied van die jaarlikse Veeskool en vleisbeesgenomika-projek van Suider-Afrika. Hy het passievol daaraan gewerk om almal in die rooivleiswaardeketting nader aan mekaar te trek sodat die bedryf as geheel voordeel kan trek.
Mnr. Johan de Vos, voorsitter van Wagyu Suid-Afrika, het Michael geloof vir die wetenskaplike wyse waarop hy vooruitgang in die veebedryf bewerkstellig en naspeurbaarheid bevorder het. As uitvoerende hoof van Wagyu SA het hy in ’n ommesientjie groot vooruitgang plaaslik bewerkstellig en internasionaal aansien verwerf. Die Wagyu-wêreldraad het hom einde 2021 as sy eerste ere-ambassadeur aangewys, maar hy was te siek om die eerbewys te ontvang. Tydens die huldigingsdiens in Irene is die toekenning deur mnr. Frans Stapelberg, vorige voorsitter van Wagyu SA, aan sy weduwee, Elmarie, oorhandig.
Sy kinders, Robin en David, en broer, David, het ook hulde gebring en hom as ’n leier en familiemens bestempel wat altyd na ander mense se menings geluister, raad gegee en leiding geneem het.