
Hy kom uit ’n tyd toe swart mense vanselfsprekend ondergeskik was en jy vanselfsprekend reg was as jy wit is, maar dit hoort tot die verlede. “Wat doen ons nou?” wou dr. Reuel Khoza weet tydens die bekendstelling van die Partners in Agri Land Solutions PALS se nuwe tak in Mpumalanga.
Khoza het al as voorsitter in die direksies van Nedbank en Eskom gedien, maar deesdae boer hy met avokado’s by Kiepersol naby Hazyview in Mpumalanga.
Khoza was gister die hoofspreker op die bekendstelling wat in die Mbombela-stadion gehou is. Die PALS-inisiatief is van stapel gestuur om grondhervorming pro-aktief aan te pak op ’n manier wat ekonomiese groei, werkskepping en sosiale harmonie bevorder, sê mnr. Gerrit van Vuuren, een van die stigterslede van die eerste PALS-aksie op Witzenberg in Ceres in die Wes-Kaap.
Hy sê die PALS-raamwerk takel die belangrikste suksesfaktore vir volhoubare landboubesighede. “Dit verseker dat hierdie faktore, naamlik toegang tot grond, vaardighede, markte, finansiering, geskilbeslegting, ’n uittree-aksie, asook die ondersteunende omgewing, reg bestuur word om nuwe inklusiewe landbou-ondernemings volhoubaar te vestig.”
Die sukses van PALS-inisiatiewe berus op sterk vertrouensverhoudings in vennootskappe tussen opkomende en kommersiële boere.
Khoza het gesê hy meen dit is enigste manier om grondhervorming suksesvol aan te pak. Vennootskappe tussen ervare, kundige kommersiële boere wat bereid is om te help, en opkomende boere wat bereid is om te leer.
‘Vennootskappe wat werk’
Mnr. Leon Doyer, ’n prokureur van Mbombela wat in die direksie van die nuwe PALS-tak dien, noem dit “strategiese vennootskappe wat werk” en sê dit is die primêre doel van PALS-Mpumalanga.
“Terselfdertyd wil ons seker maak daar is oorbruggingsopleiding tussen enige akademiese opleiding wat opkomende boere mag hê, en dit wat in die praktyk van hulle verwag word. Saam met die oordra van vaardighede is sterk besigheidstrukture die bakermat van suksesvolle vennootskappe.”
“Leon is my prokureur,” het Khoza vertel, en Doyer bedank vir sy harde werk onder boere. Hy het Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, by name bedank vir die werk wat die handelsmerk as PALS-vennoot doen om die suksesverhale van die private sektor se grondhervormingsinisiatiewe aan die wêreld bekend te maak. Hy was ook vol lof vir Van Vuuren wat die PALS-inisiatief van stapel gestuur het. “Ek vermoed jy het die weg gebaan vir iets wat dalk net die oplossing vir Suid-Afrika se landbou-knelpunte kan wees.”
Doyer se prokureurskantoor in Mbombela gaan aanvanklik as die provinsie se PALS-sentrum dien. Dit is hier waar opkomende boere opgelei kan word in die werking van die Maatskappywet (Wet 71 van 2008), besluitnemingsprosesse in vennootskappe, en ander besigheidsvaardighede wat hulle nodig gaan kry as aandeelhouers in grondtransaksies.
Dit is ook waar kommersiële boere wat gereed is om deel te word van die oplossing vir Suid-Afrika se grondvraagstuk, by die PALS-raamwerk kan inskakel. “Dit is nie net vir boere nie,” sê Van Vuuren. “Mense kan op baie maniere ’n bydrae lewer, soos om vaardighede in onderhandeling of finansiële beplanning aan nuwe boere oor te dra.”
Hy glo suksesvolle grondhervorming is iets waartoe die Grondwet almal in Suid-Afrika verbind. Daarom moet alle Suid-Afrikaners nou alles in die stryd werp om dit suksesvol en op ’n vreedsame manier te doen wat die landbousektor eerder uitbrei as om “die bestaande koek in kleiner stukkies te verdeel”.
Dit is waarom Khoza ’n vriend van PALS wil wees. Volgens hom is daar ongeag die ongelyke verlede baie welwillendheid onder Afrikaners en Afrikane. Dit was Afrikanerboere wat hom bygestaan het om sy boerdery te ontwikkel tot op die punt dat sy avokado’s nou gesog in Frankryk is.