
Dr. Theo de Jager is as die president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) verkies.
Dit sal die eerste keer wees wat ’n Suid-Afrikaner die leisels by die WFO oorneem. De Jager is deur die Zimbabwiese Kommersiële Boerevereniging (ZCFU) benoem as kandidaat vir dié presidentskap.
Agri SA het De Jager ook geluk gewens. De Jager was voorheen die adjunkvoorsitter van dié organisasie. “Ons glo deur konstruktiewe betrokkenheid met die WLO, onder die leierskap van dr. De Jager, sal die WLO voortgaan om ’n instrumentele rol te speel om 'n bevorderlike omgewing te skep vir landboubeleggings en ontwikkeling reg oor die wêreld,” sê Agri SA in ’n nuusverklaring.
Vir groot en klein boere
Die CFU het De Jager ook met sy verkiesing geluk gewens. “Ons is ook bly dat ons as die CFU sy benoeming kon fasiliteer. Die WFO het lede in alle hoeke van die wêreld en verteenwoordig meer as 50 verteenwoordigende liggame vir beide groot en klein boere.
“Ons weet dat Theo 'n groot belangstelling het in ons plaaslike situasie, sowel as sy verbintenis tot boere in die algemeen. Hy beywer hom wêreldwyd vir pro-landboubeleid in aangeleenthede soos klimaatsverandering en die beëindiging van armoede by boere. Ons sien uit na voortgesette samewerking met hom terwyl ons soek na oplossings vir ons plaaslike probleme as boere.”
Mnr. Alfred Kapichira Banda, van die Malawiese Landbou-unie, is ook tot die WLO-raad verkies.
Nieu-Seeland en Switserland
De Jager se mededingers om die pos was dr. William Rolleston, wat in die pos waargeneem het en voorsitter van die Nieu-Seeland se federale landbouvereniging en mnr Fritz Glauser, visevoorsitter van die Switserse Boerevereniging en tesourier van die WLO.
De Jager is alombekend in landboukringe in Afrika waar hy hom beywer met modernisering, kommersialisering en meganisasie, en is boonop self ook ’n suksesvolle kommersiële boer.
President van SACAU
Hy het vir die afgelope agt jaar vir Agri SA by die konfederasie van landbou-unies in Suider-Afrika (SACAU) verteenwoordig en het sedert 2013 ook as president van SACAU gedien. Hy is ook ’n stigterslid van Agri All Africa, ’n maatskappy wat kleinboere in Afrika help om kommersiële boere te word.
De Jager is in 2016 as Landbouskrywers SA se Landboukundige van die Jaar aangewys.
Hy neem die pos oor by dr. William Rolleston van Nieu-Seeland, wat tydelik as president moes instaan, nadat dr. Evelyn Nguleka van Zambië in September 2016 bedank het ná aanklagte van diefstal en geldwassery by die Zambiese nasionale landbou-unie.