
Die drankbedryf het reeds “red ons somer-veldtogte” van stapel gestuur as deel van pogings om mense te kry om drank verantwoordelik te gebruik, inentings te kry en alkoholverwante beserings wat tot hospitalisasie lei, aan te pak.
Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het intussen ’n brief aan mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, gestuur waarin ’n dringende vergadering versoek word om sy hulp te kry sodat ’n vyfde tydelike verbod op die verkoop van alkohol nie in die Desember-vakansietydperk ingestel word nie. In die brief word daar klem gelê op die feit dat die land die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld het en dat enige verdere werkverliese in die alkoholbedryf ’n verwoestende impak op die land se ekonomie sal hê. Me. Patricia Pillay, uitvoerende hoof van Basa, wys aan Patel uit dat die staat tot op datum nog nie wetenskaplike bewyse en data kon gee waarop sy besluit gegrond is om ’n alkoholverbod in te stel nie.
Verkiesing
Sy dui verder aan dat hulle bekommerd is dat ’n vyfde verbod oor die Desember-vakansietydperk ingestel gaan word aangesien mnr. Bheki Cele, minister van polisie, onlangs in die media aangehaal is dat die munisipale verkiesingsdag op 1 November ’n openbare vakansiedag is en drank nie verkoop mag word nie. IOL het berig dat Cele hierdie uitlating gemaak het toe hy Greytown in KwaZulu-Natal besoek het.
Die land is tans op ’n vlak 1-inperking waar die verkoop van drank normaal volgens die lisensievoorwaardes binne handelsure verkoop mag word, behalwe vir plekke wat weens die middernag-aandklokreël vroeër moet sluit sodat werkers betyds huiswaarts kan keer. Volgens ingeligtes met wie Landbou.com gepraat het, is daar nie sprake dat ’n spesiale drankverbod vir 1 November beplan word nie. Die idee is wel om weer, soos verlede jaar, beperkinge oor die Desember-vakansietydperk in te stel. Die nasionale bevelraad vir die koronavirus, wat die inperkingsvlak en beperkinge bepaal, se volgende vergadering is vir Dinsdag, 9 November geskeduleer.
Verliese
Basa wys uit dat die vorige vier ingestelde beperkinge op die verkoop van alkohol meegebring het dat meer as 240 000 werke in gedrang gebring is en belastinginkomste van R34,2 miljard en aksynsbelasting van R10,2 miljard verlore gegaan het.
Die ministeriële komitee vir covid-19 het met sy laaste rondte voorstelle uitgewys dat hoewel daar ’n verbintenis is tussen die gebruik van alkohol en die trauma-lading by hospitale, die terugkeer van alkoholverkope na normale ure geregverdig is. Die komitee het ook aanbeveel dat groot sorg geneem moet word dat die beperkinge, met die munisipale verkiesing wat op 1 November gestel is, nie só verslap word dat dit die oordragrisiko van die virus vererger deur swak gereguleerde massa-samekomste nie.
Intussen sê mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro: “Vinpro bly hoop vir ? positiewe uitkoms in afwagting op die uitspraak oor ons hofsaak wat in Augustus voor die hof gebring is wat hierdie belangrike beginsel wat besluitneming rondom ? toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal. Intussen bly ons toegewyd aan al ons pogings om die Suid-Afrikaanse wynbedryf ten volle te heropen en herbou.”