
“Die ware impak van die huidige en vorige drankverbod se gevolge gaan ’n groot rimpeleffek hê in die hele wyn-, drank- en gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika.
“Daar is géén logika agter dié besluite nie. Dit kan sin maak om die verkoop van drank te verbied in die gebiede waar geweld en ongelukke weens drankmisbruik voorkom, maar om die hele ekonomie lam te lê weens streeksgebonde oortredings of vergrype gaan alle verstand te bowe.
“As een gloeilamp in jou huis blaas, sit jy nie die hoofskakelaar af om die gloeilamp om te ruil nie, net die skakelaar vir die lig waar die probleem is. Dit wil egter voorkom asof die mense aan die stuur nie weldeurdagte besluite neem nie en dink die probleem gaan verdwyn as die hoofskakelaar na die drankbedryf eenvoudig afgeskakel word.”
Hy sê Jéan, die landgoed se restaurant en deli, het beslis heelwat minder gaste. “Ons gaste is gekultiveerd. Hulle geniet wyn saam met hul maaltye.”
De Villiers sê die meeste kelders sit boonop met oorskotte en wynpryse daal, terwyl die pryse van spuitstowwe, diesel en kunsmis styg. Werkers kan nie parsbonusse of verhogings kan verwag nie. “Die algemene gevoel is magteloosheid en al hoe meer produsente soek buitelandse markte op.”
Die DA doen ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa om die drankverbod onmiddellik te beëindig omdat dit grootskaalse skade aan die land se ekonomie aanrig.
“Noudat SAB aangekondig het dat hy weens die verbod op die verkoop van drank nog ’n belegging van R2,5 miljard kanselleer nadat hy vroeër reeds ’n belegging van R2,5 miljard gekanselleer het, is dit baie duidelik dat die ondeurdagte verbod ’n verwoestende impak op Suid-Afrika se ekonomie het,” sê mnr. Dean Macpherson, DA-LP.
“Sowat 165 000 mense het reeds hul werk verloor weens die opeenvolgende verbod op die verkoop van drank. In ’n land met rekordvlakke van werkloosheid is dit ondenkbaar dat mense gedwing word om nie te werk nie omdat die regering misluk het om gedurende die aanvanklike inperkingstydperk bykomende kapasiteit in hospitale te skep.”
Hy sê Suid-Afrikaners betaal nou met hul lewens en werk omdat Ramaphosa en sy ministers nie hul beloftes nagekom het nie. “Hoeveel langer moet wynboere, boetiekjenewermakers en boetiekbierbrouers, restaurante en soveel ander mense en bedrywe wat op die drankbedryf staatmaak, ly onder die regering se onbekwaamheid?”
Macpherson sê die DA het reeds opbouende en sinvolle kommentaar en oplossings aan die departement van handel en nywerheid voorgestel om drankmisbruik hok te slaan, terwyl Ramaphosa al ses jaar op nuwe drankwetgewing sit.
“Dit is tyd om die verbod te beëindig, LP’s terug by die werk te kry sodat die drankwetgewing deurgevoer kan word en hospitale se kapasiteit te vergroot soos belowe is. Enigiets minder sal mense hul lewens en lewensbestaan kos.”
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, sê die drankverbod vuur onwettige verkope aan. “Waarom nie aanlyn verkope van alkohol toelaat nie? En waarom ook nie wynplase toelaat om met wynproe en wynverkope voort te gaan nie?
“Die drankbedryf staan die verantwoordelike gebruik van wyn en alkohol voor. ’n Algehele verbod het reeds ’n uiters nadelige ekonomiese impak op die bedryf. Die kabinet moet eerder met die alkoholbedryf saamwerk aan ’n strategie om ’n kultuur te vestig wat die verantwoordelike gebruik van alkohol bevorder.”
Hy meen die impak van ’n algehele verbod gaan die ekonomiese bydrae van die alkoholbedryf vernietig. “Daar ís strategieë om die bedryf aan die gang te hou en werksgeleenthede te beskerm, maar dit vereis groter samewerking en die uitruil van idees. Luister daarom asseblief tog na die pleidooi van die sektor.”