
Volgens Basson het Vinpro op grond van advies van sy regsverteenwoordigers besluit om nie voort te gaan met sy aansoek vir ’n tussentydse interdik nie aangesien die verbod op die verkoop van drank Maandag gedeeltelik opgehef is. “Ons is ingelig dat die saak nie kan voortgaan nie, soos bevestig met die regsverteenwoordigers van die nasionale regering, omdat die hof dit nie langer as uiters dringend sal beskou nie.”
Basson sê Vinpro is van plan om voort te gaan met die aansoek om te verhinder dat die wynbedryf en sy waardeketting in die toekoms weer ontwrig word weens ’n toename in nuwe Covid-19-gevalle en die gevolglike toename in druk op kapasiteit by hospitale se trauma-eenhede.
“In die afwesigheid van kudde-immuniteit, wat teen einde 2021 in Suid-Afrika bereik kan word, vrees ons dat die nasionale regering weer eens ’n landwye verbod op die plaaslike verkoop van drankprodukte, soos in die verlede, sal gebruik wanneer ’n derde en vierde vlaag van besmettings die land tref. Daarom sal Vinpro die manier waarop hierdie verbod opgelê word, in die hof betwis.”