Die aantal melkboere in Suid-Afrika het van 7 077 in Januarie 1997 tot 2 713 in September 2010 gedaal, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO) in die jongste Lacto Data.
Luidens die dokument is die grootste daling in die Noord-Kaap (79%) aangeteken, terwyl melkboergetalle in die Vrystaat met 50% afgeneem het. In Januarie 2008 het die aantal produsente in die land op 3 665 gestaan.
Rede vir die daling?
Dr. Koos Coetzee, suiwel-ekonoom werksaam by die MPO, sê produsentegetalle het gedaal weens die stygende produksiekoste vir die produsent, asook die noodsaaklikheid om doeltreffendheid te verhoog deur die gebruik van moderne tegnologie.
“Daarom moet boere groter word om skaalvoordele te kan benut. Melkverwerkers se besluit om nie kleiner produsente se melk te ontvang nie, het ook ‘n groot rol gespeel,” verduidelik Coetzee.
Pryse aan produsente
Volgens die dokument het internasionale pryse aan produsente grootliks dieselfde roete as internasionale produkpryse gevolg. Internasionale produkpryse het gedurende 2009 en die begin van 2010 herstel, ná die laagtepunt wat dit in 2008 bereik het.
Sedert die begin van die jaar was dié pryse baie wisselvallig met twee hoogtepunte en twee laagtepunte wat teen Augustus bereik is. Wêreldpryse aan produsente het ook gedurende 2009 en die begin van 2010 herstel. Volgens die data het pryse aan Suid-Afrikaanse produsente sedert Junie gedaal, terwyl dit van Januarie tot Mei op ‘n gemiddeld van R3,00 per liter was.
Lees ook:
Melkboerdery is 'n 'oop tronk’
27 Oktober 2010