
Drie ministers het Woensdagmiddag luidens ’n gesamentlike verklaring gesê hulle is veral bekommerd oor die uitwerking van die staking op sektore wat afhanklik is van Transnet se logistieke dienste, soos die landbousektor.
Dis amper ’n week dat stakende werkers en lede van die vakbond Untu by hawens soos Kaapstad, byeenkom om te staak. Satawu-lede het hulle Maandag by die staking aangesluit.
Gesamentlik is meer as 80% van Transnet-werknemers lede van die twee vakbonde.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en mnr. Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid asook waarnemende minister van staatsdiens en administrasie, skryf in die verklaring hoe vinniger die uitvoer van landbouprodukte soos sitrus, druiwe en bessies saam met ander uitvoerprodukte hervat kan word, hoe beter sal dit wees vir duisende mense se werksgeleenthede reg oor Suid-Afrika.
Die ministers sê die regering glo dit is in belang van Suid-Afrika dat baie vinnig ’n oplossing vir die dooiepunt in onderhandelinge gevind word.
“Ons het vanoggend met albei vakbonde ontmoet. Ons het ook met die sakesektor in gesprek gebly en die sektor op hoogte gehou van die ontwikkelinge. Saam kyk ons ook hoe saamgewerk kan word en kon só ’n blik kry op die strekking en impak van die staking. Ons het ook nou insig oor die gaping wat daar tussen die onderhandelende partye – vakbonde en Transnet-bestuur – is.
“Suid-Afrika kan nie verdere werksverliese en die onderbrekings van invoer en uitvoer na en van Suid-Afrika bekostig nie.”
Die regering het by monde van die ministers albei partye versoek om terug te keer na die onderhandelingstafel en ’n oplossing te vind om die regte van werkers te balanseer met die langtermynstabiliteit en groei van Transnet en die Suid-Afrikaanse ekonomie in sy geheel.
Mnr. Alan Winde, premier van die Wes-Kaapse, sê die staking deur vakbonde kom op ’n baie kritieke tydstip.
In 2021 het die Wes-Kaap 90% van sy landbouprodukte deur Kaapstad se hawe uitgevoer en slegs 6% is met vliegtuie weggestuur.
Die Wes-Kaapse regering is daarom bekommerd oor die impak van die staking op werkers in die provinsie se landboubedryf en mense wat in die logistieke, invoer- en uitvoerbedryf werk.