Drie plaasaanvalle het in ‘n kwessie van twee dae in die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes plaasgevind.
Mnr. Werner Weber, die leier van die Vryheidsfront Plus in Mpumalanga, sê mnr. Bakkies Böhmer, ‘n boer van Piet Retief, is Donderdagaand (2 Desember) deur vier mans aangeval en geskiet.
“Ons vermoed die aanvallers het gedink Böhmer is alleen op die plaas, aangesien sy vrou in Johannesburg was. ‘n Aangenome kind het egter by hulle gekuier,” sê Weber.
Hy sê die aanvallers het Böhmer buite sy plaashuis in sy die boud en in die maag geskiet, waarna hulle hom glo beveel het om sy kluis oop te sluit.
Haelgeweer
Die dogter het glo egter gehoor toe hulle Böhmer skiet, en het na die kamer waar die kluis met wapens was gevlug. Soos wat die aanvallers die kamer binnegekom het, het sy glo ‘n skoot met ‘n haelgeweer afgevuur. Een van die verdagtes is gewond, en die groep het op die vlug geslaan.
Böhmer word tans in ‘n plaaslike hospitaal behandel. Weber sê dit is nog nie seker of iemand aangekeer is nie, maar daar is glo ‘n bende aanvallers wat in die omgewing beweeg. Hy sê in ‘n omgewing van vyf vierkante kilometer is slegs twee wonings wat nog nie in die afgelope maande beroof is nie.
Ander aanvalle
Intussen het tien verdagtes Maandag, 6 Desember, in howe in die Vrystaat en Noordwes verskyn na twee ander plaasaanvalle verlede week. Op Woensdag, 1 Desember, is ‘n boer, sy vrou en hulle drie jarige dogtertjie op die plaas Tweefontein naby Lindley wreed vermoor.
Donderdagaand, 2 Desember, is ‘n 63 jarige boervrou van Koster in Noordwes tydens ‘n aanval met ‘n hamer doodgeslaan terwyl haar man ernstige beserings opgedoen het.
Geen erns nie
Weber sê: “Dit is duidelik dat die Regering plaasaanvalle nie in ‘n ernstige lig beskou nie. Die houding van die Regering is onaanvaarbaar en is skokkend. Die Regering toon met sy optrede dat boere se veiligheid nie ‘n voorkeur vir hom is nie. Die Regering behoort egter na te dink oor die impak wat volgehoue plaasaanvalle op voedselsekuriteit en werkloosheid het.”
Weber sê tydens dievroeëre Aksie Stop Plaasaanvalle-petisieveldtog is 416000 handtekeninge teen plaasaanvalle ingesamel. Die Regering wou glo nie die petisie erken of ontvang nie.
6 Desember 2010