
Schoeman was die oggend van 7 Mei op pad Mookgophong toe toe hy ’n bakkie by een van hulle plaashekke sien indraai. “Die ou was duidelik haastig, want hy het die hek nie eens mooi toegemaak nie. Ek het dit sommer liggies met my bakkie se buffer oopgestoot en is agter die vent aan.”
Toe die ander voertuig se bestuurder sien daar is iemand agter hom aan het hy dadelik stilgehou, uitgeklim en toe Schoeman hom vra wat hy maak, vertel hy dat hy verdwaal het.
Slim vang sy baas
“Dit was slim van hom om daar stil te hou. Hy het natuurlik gehoop om Arnold van sy spoor af te kry voor hulle by die kraal kom waar sy makkers reeds ons beeste op ’n sleepwa gelaai het,” vertel Prinsloo.
Schoeman het egter onraad vermoed en die oomblik toe hy sy voertuig afsluit en die sleutel uittrek, het die verdagte bakkie se bestuurder laat spaander.
Schoeman het besef daar’s fout en het die hulp van die plaaslike plaaswag, die Heritage Protection Group en die polisie ingeroep. By die beeskraal verder af in die pad was nege van hul kalwers reeds op ’n sleepwa gelaai. Hulle was almal reeds met ’n vervalste brandmerk gebrand. “Ons merk ons kalwers eers ná speen, en hierdie klomp is nog nie gespeen nie,” verduidelik Prinsloo.
Intussen het lede van die plaaswag wat ligte vliegtuie besit, opgestyg en begin soek na die voortvlugtige. Al die paaie is ook afgesper. “Ons het geweet hy sou iewers in ’n gat moes kruip om uit die oog te bly en het toe in al die stormwaterpype onderdeur die paaie begin kyk,” sê Schoeman. Die verdagte is inderdaad in een van dié pype aangekeer.
Nog twee vas
Kort daarna is nog twee van sy makkers in hegtenis geneem. Twee van die drie het reeds in die landdroshof op Mookgophong verskyn en is vrygelaat op borgtog. Die derde se aansoek vir borgtog kom binnekort in die hof voor.
“Hierdie drie steel al van Februarie af in ons omgewing beeste,” sê Prinsloo en vertel hoe daar vroeër op dieselfde wyse 31 beeste by ’n ander boer daar naby gesteel is. Hy sê hierdie groep lê hulle toe op jong kalwers wat nog nie gespeen is nie, en wat hulle dan self kan brandmerk voordat hulle die kalwers vervoer.
Hy meen dit is te maklik om brandmerke te vervals en sê daar gaan ’n beter identifikasiestelsel vir beeste ingestel moet word. ’n Oorplaatjie met ’n unieke nommer op wat mens kan aanbring binne dae nadat ’n kalf gebore is, sal die beste werk, sê hy. “Dan kan die polisie ’n ou sommer toesluit as hy ’n bees het waarvan die oor afgesny is!”
Prinsloo is ook bekommerd oor die swak toestande waaronder veediefstaleenhede se lede moet werk. “Hier by ons het hulle nie eens ’n voertuig nie, ook nie op Modimolle, Vaalwater of Lephalale nie. Hoe moet hulle hul werk doen?”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.