
Kapt. Sergio Kock sê drie verdagtes het op 7 Julie omstreeks 20:00 die egpaar se huis op hul plaas by Campbell in die Noord-Kaap betree. Die boer en sy vrou is met ’n vuurwapen gedreig. Die verdagtes het ook die boer met pangas aangeval.
Die verdagtes het ’n aansienlike hoeveelheid kontant, ’n .38 Special-rewolwer, ’n skootrekenaar en selfone gebuit. Die verdagtes het die egpaar toe in hul silwer Toyota Hilux gelaai en na Kimberley geneem om hulle te probeer dwing om nog geld te trek.
Die bakkie het moontlik weens
meganiese probleme sowat 20 km buite Kimberley gaan staan. Die egpaar is langs
die pad vasgebind waarna die verdagtes gevlug het. Volgens Kock het die boer
daarin geslaag om homself los te wikkel en die voorval by die polisie aan te
meld.
Met die inhegtenisneming van die verdagtes het die polisie in Galeshewe afgekom op die boer se rewolwer, asook ’n speelgoedpistool wat in die vloer van ’n slaapkamer in ’n huis in Glashewe begrawe is. Die polisie het beslag gelê op ’n skootrekenaar en selfoon wat vermoedelik aan die egpaar behoort.
Die verdagtes, onderskeidelik 24, 25 en 27, sal in die landdroshof op Douglas verskyn.
Die ondersoek duur voort. Enigiemand met nog inligting kan speurkonst. Bernard Sebegilwe by 060 864 6128 kontak.