
Met 'n omset van byna R45 miljoen is die bekende wildboer en jagondernemer, mnr. Dries Visser van Thabazimbi, baie tevrede met die eerste veiling wat hy onder sy eie naam aangebied het.
Hy sê wanneer mens na jou veiling as geheel kyk sal daar altyd diere wees waarvoor jy beter pryse verwag het net soos ander diere 'n mens weer met hul besonderse hoë pryse verras het. "Op my veiling was dit nie anders nie, maar as mens na die finale omset van R44,7 miljoen kyk dan dink ek ons het baie goed gevaar," sê hy.
Hy wys egter daarop dat kleurvariante wat deur hom en van sy gasverkopers op die veiling aangebied is in sommige gevalle teen minder as hul jagwaarde verkoop het.
Oor kleurvariante
'n Swart rooibokram is teen so min as R35 000 en jong ramme teen R45 000 verkoop. Ooie het in die omgewing van R28 000 verdien. "Ek kan 'n swart rooibok gemaklik teen tussen $4000 en $5000 (US) bemark," sê Visser. Dit is in die omgewing van R65 000 en hy glo die mark vir kleurvariante gaan weer lewe kry sodra Suid-Afrika se wildbedryf met erns na die jagmark begin omsien. "Tot nou toe was die kleurvariante uitsluitlik 'n veiling kommoditeit. As ons hulle bemark en die ouens sien daar is 'n jagwaarde vir hulle, gaan die vraag weer optel."
Een van sy top swartwitpensbulle, Busanga, se genetika is byvoorbeeld baie populêr met koeie wat dragtig is van hom wat onderskeidelik R1 miljoen en R1,1 miljoen gehaal het. Koeie dragtig van sy bulle, Melanje en Big Boy jnr. het ook tussen R870 000 en R950 000 verdien.
Gesonde pryse
Buffels het ook teen gesonde pryse verhandel met verse wat almal oor die R400 000 stuk verdien het.
Die rekord koedoebul, Hercules, wat verlede jaar deur 'n konsortium van telers gekoop is teen R9,4 miljoen en in vennootskap met Visser in 'n teelprogram gebruik word se dragtige dogters het teen R40 000 elk verkoop. Een van sy seuns het R70 000 gehaal.
Swartwitpens-bulle, Olmeca en Mumba het onderskeidelik R3,5 miljoen en R3,6 miljoen gehaal.