Die droë weer wat die meeste dele van die Swartland in September ondervind het, kan korrel- en aanvulling by vanjaar se koringoes beduiwel.
Hoewel boere optimisties is oor die opbrengsvooruitsigte vir die koring wat vroeg gesaai is, is daar kommer dat die reën te vroeg opgehou het om korrelvulling te verseker by die koring wat later gesaai is.
Boere in die Sandveld skat ook dat hulle vanjaar skaars die helfte van die gemiddelde opbrengste gaan behaal.
Laat winter lol
Mnr. Pierre Heydenrych, van die plaas Uitkoms, Vredenburg, sê sake lyk eintlik sleg. Hy dink hulle gaan maar 1 t/ha oes pleks van die gemiddelde van 2,5 t/ha. “Die winter het laat begin en vroeg opgehou. Ons het in Julie omtrent niks reën gekry nie, in Augustus 60 mm tot 70 mm en in September weer niks.”
Heydenrych skryf die verwagte laer oes daaraan toe dat hulle nie in die korrelvulfase reën gekry het nie. “As ons in September weer twee keer 15 mm kon kry, was dit dalk anders. Daar was genoeg plante en are, maar nie veel in die are nie.”
Voorspellings moeilik
Die koring lyk goed, maar as ’n mens dit van naderby bekyk, is party are leeg, terwyl die pitte in ander nog baie nat is, en dus nog baie kan krimp tot rypwording, sê mnr. Abrie Richter van die plaas Panorama, buite Piketberg. Hy wou egter nie ’n voorspelling waag oor die oesvooruitsigte nie.
Mnr. Francois Eksteen, wat buite Piketberg boer en reeds begin het om kanola te oes, sê hoewel die kanola vanjaar beter lyk as verlede jaar, kan hy kan nog nie sê wat die opbrengs vanjaar gaan wees nie.
19 Oktober 2011