
Die gebied strek vanaf Bo-Kamanassie tot by Calitzdorp.
Mnr. Laubscher Coetzee, die Klein-Karoo se streeksverteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê die gebied is ’n paar jaar gelede saam met die res van die Wes-Kaap tot droogterampgebied verklaar, maar toe die damme naby die Kaapse metropool en ander gebiede weer vol geraak het, is dit drie jaar gelede opgehef, sonder dat die Klein-Karoo oor sy voortgesette droogte geraadpleeg is.
Die gebied is nou in sy sesde jaar van droogte. Ná ’n bietjie reën in Mei lyk die veld groen, maar dis ’n groen droogte, want die Stompdriftdam se vlak staan op 7% en die Kamanassiedam s’n op 0%.
Ná Mei se 20 mm tot 50 mm op sommige plekke, “het boere in geloof baie gesaai. Dit het pragtig opgekom, maar opvolgreën is nou nodig. Nie 10 mm nie, maar 40 mm tot 50 mm, en in die berge het ons minstens 100 mm nodig.”
Die afgelope paar jaar het dit te min in die berge gereën, sodat takriviere nie tot in die Olifantsrivier loop nie, wat die Stompdrift-Kamanassie-besproeiingskema voed.
Die skema beslaan 13 500 ha. Produsente plant hier hoofsaaklik lusern. “Ons produseer 90% van Suid-Afrika se lusernsaad. In vorige spitstye het ons 500 t/jaar geproduseer. Nou is dié saad so skaars soos hoendertande. Verlede jaar het ons produksie so gevat-vat aan 50 ton.”
Veeboere hou volstruis, skaap en tot mindere mate bees in die dele naby die berge aan.
Dubbele slag
Volstruisboere kon die droogte aanvanklik nog deurstaan, want die prys vir vere en leer was redelik goed, maar die covid-19-pandemie het hulle hard geslaan, want verkope vir onder meer die karnavalle in Brasilië het tot stilstand gekom.
Covid-19 het boere ’n verdere slag toegedien omdat toerisme-bedrywighede stopgesit is. Baie boere het hul heil in agritoerisme gaan soek en gastehuise en gasteplase op die been gebring. Covid-19 het die mat onder hulle uitgepluk.
Boere se dringende behoefte is om voer te kan koop, maar hulle het ook hulp nodig vir langtermynoplossings om water, te midde van die veranderende klimaat, beter te berg en benut. “Ons wil nie aldag bakhand staan nie,” sê Coetzee.
Boere beskou die bou van ’n pypleiding om die huidige grondkanale te vervang, as ’n oplossing.
Dan hoef honderde boere nie soos nou op dieselfde tyd water te lei nie, maar elke boer kan lei wanneer nodig. Water sal beter benut kan word, boere sal beter kan beplan en ook langtermyngewasse kan oorweeg.
“Die Kamanassiedam is 100 jaar terug gebou. Dis sekerlik tyd dat ons nou waarde daartoe voeg?” sê Coetzee.
Watersekerheid
Mnr. Gerhard Meyer, bestuurslid van die Stompdrift-Kamanassie-watergebruikersvereniging, sê die watervlak van die Stompdrift- en Kamanassiedam is al vyf jaar lank só laag soos nou.
“Ons moet langtermynkapitaalprojekte aanpak om groter watersekerheid vir die skema te kry. Die skema is nie meer geskik vir die weerpatrone wat die Klein-Karoo die afgelope paar jaar ervaar nie. As daar byvoorbeeld nou ’n vloed sou wees, sal die damme ná twee tot drie dae oorloop en dié water see toe loop. Ons sal die manier en kapasiteit van wateropgaring, asook die verspreiding daarvan moet verander.”
Boere is reeds in gesprek hieroor met die Wes-Kaapse regering. “Dit gaan vinnig opgelos moet word, anders gaan die landbou in die Klein-Karoo nie meer bestaan nie. Dit gaan spanwerk verg. Ons as boere gaan nie agteroorsit en wag dat die regering ons probleem oplos nie,” sê Meyer.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het reeds ’n spesiale taakspan aangestel om aan die waterkrisis aandag te gee.